Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 9
1
ОглавлениеVaselinetjie het nog nooit trein gery nie. Die prinsipaal het haar en Oupa met sy ghrênd motor Upington toe gevat. Daar het hulle kaartjies vir die trein gekoop.
Ná die Sondag wat sy gehoor het sy moet weggaan, het Vaselinetjie so aanhoudend gehuil dat Oupa later moedeloos gesê het hy en Ouma sal haar vat om splinternuwe klere te koop as sy net tot bedaring sal kom. Terug by die huis mag sy egter nie haar nuwe klere aantrek om te dra nie, sy kon net een keer in die spieël kyk en toe het Ouma dit netjies opgevou en in haar tas gepak. Uit haar nuwe winkelklere kon sy net een iets kies om op die trein aan te trek: ’n pienk toppie met ’n denimskirtjie.
Die trein wikkel en skud. Oupa sit wiegend en slaap met die koerant oop op sy knieë. Hy’t sy kerkpak aan en sy hoed lê langs hom op die sitplek. Dis die eerste keer in jare dat Oupa van die huis af weggaan. Vaselinetjie het gehoor hoe hy reël dat die predikant se vrou by Ouma kom oorslaap. Ouma was glad nie tevrede nie, maar toe Oupa met sy kierie op die vloer stamp en sê daar sal nie verder ’n stryery oor wees nie, het Ouma haar maar berus.
Vaselinetjie probeer Ouma se stem in haar kop hou. Sy weet net dit gaan baie lank wees voor sy dit weer sal hoor. In haar Bybel is ’n briefie wat Ouma gesê het sy moet lees wanneer sy by haar nuwe skool verlang en allenig voel.
“Nie voor die tyd nie, gahoor?”
Die trein ry deur die nag, tot die volgende oggend. Naby Johannesburg kom maak die kondukteur hulle venster toe. Hy sê die mense gryp sommer jou goed terwyl die trein nog beweeg.
Vaselinetjie voel al van vroegoggend af jammer vir haarself, maar skielik begin sy vir Oupa amper meer jammer kry. Hy vryf-vryf aanhoudend oor die rand van sy hoed. Sy gaan sit op die sitplek langs hom en leun met haar kop teen sy skouer. Arme Dadda.
Die stasie is baie groot en raserig met mense wat almal kwaai lyk en haastig is. Dieselfde wit vrou wat Vaselinetjie uitgevra het by die skool, is daar om hulle te ontmoet. Vaselinetjie glimlag glad nie vir haar nie en hou Oupa se hand tot die laaste oomblik vas. Hy haal hees asem en sy oë is waterig.
Toe Oupa haar groet, vroetel hy in sy binnesak, haal ’n R50-noot uit en gee dit vir haar. Dis die meeste geld wat sy nog ooit gehad het, behalwe die keer toe sy die skool se kunskompetisie gewen het en die predikant én die prinsipaal én Oupa elkeen vir haar R20 gegee het.
Oupa hou nie op om haar vas te druk nie en die Welsynvrou kyk op haar horlosie.
“Mevrou, hierdie is onse hart se punt,” snik Oupa in sy sakdoek en kry nie ’n woord verder uit nie.
Die laaste wat Vaselinetjie van haar Dadda sien, is waar hy met sy hoed in sy hand op ’n bankie in die groot stasie voor hom sit en uitkyk. Hy weet nie dat sy hom nog deur die glasdeure van die parkeerterrein kan sien nie en sy moet op haar lip byt om nie agter hom aan te gil nie.
Sy praat niks met die Welsynvrou nie. As die vrou haar iets vra, draai sy net haar kop weg en maak of sy by die kar se venster uitkyk.
Hulle ry lank en stop net een keer by ’n garage waar Vaselinetjie alleen die toilet moet gaan soek. Sy voel asof almal kan sien sy’s ’n kind wat van haar huis en haar dorp af moet weggaan sonder dat iemand vir haar die regte rede sê. Asof die hele wêreld weet van ’n geheim en sy’s die enigste aap wat van niks weet nie. Wat daarvan as sy ligter as almal is? Haar ouma sê sy’s maar van altyd af so.
Die Welsynvrou koop vir haar ’n pasteitjie, tjips en ’n Fanta. Vaselinetjie hou baie van Fanta, maar sy hou die blikkie aspris net vas sonder om dit oop te maak. Dis vir haar moeilik om ongeskik te wees met ’n vreemde grootmens, want haar ouma het haar nie so geleer nie. By die kerk sê die mense altyd hoe goed gemanierd sy is. Maar vandag gee sy nie om nie. Die antie moet maar dink sy is ongeskik.
Om van die Welsynvrou te vergeet, kyk sy na die name op al die borde. Sy’s nie toe nie. Sy weet Johannesburg is lankal nie meer die Noord-Kaap waar hulle bly nie. Johannesburg is Gauteng.
Sy probeer om al die name te onthou soos wanneer sy hard vir ’n eksamen leer. Dis vir die dag wanneer sy die pad terug huis toe gaan vat. Maar later raak die name en die plekke waar hulle verbyry te veel en te deurmekaar. Vaselinetjie huil sonder om ’n geluid te maak. Sy raak aan die slaap met haar gesig in die nat kol waar haar trane teen die motordeur se plastiek opgedam het.
Haar nuwe koshuis sit buite ’n dorp wat lyk asof sy strate moeg is en na die kante toe uithang. ’n Smal teerpad kronkel halfpad teen ’n heuwel op tot voor ’n hek. Daar staan ’n groot bord wat sê: REG TOT TOEGANG VOORBEHOU.
In die skemerlig kan Vaselinetjie geboue met ’n paar stukkende vensters en ’n verdorde grasperk uitmaak, ’n tennisbaan waar onkruid deur die barste groei. Die hek hang nog net aan een skarnier en tingeling liggies teen ’n geroeste paal. Die Welsynvrou parkeer voor ’n H-vormige tweeverdiepinggebou waarin daar net hier en daar ’n liggie brand.
Niemand kom buitentoe om hulle te verwelkom nie en Vaselinetjie sukkel om haar groot tas uit die kattebak gelig te kry. Die Welsynvrou gaan klop solank aan die voordeur.
Ná ’n lang ruk klik ’n dowwe stoeplig aan en hulle hoor hoe iemand die slotte binne oopskuif.
“Is dit ’n nuwe opname?” vra ’n stem sonder om die deur op meer as ’n skrefie oop te maak. “As dit is, moet julle agterom gaan. Klop daar aan die laaste deur.” Die stem wag nie vir ’n antwoord nie en die deur word net so in hulle gesigte toegemaak.
“Kom!” stap die Welsynvrou met harde kliek-klak-treë vooruit. Vaselinetjie kan sommer hoor sy het haar gevies.
Die Welsynvrou klop lank aan ’n deur agter diefwering voor iemand vir hulle kom oopsluit. Terwyl die vrou vorms teken, kyk Vaselinetjie om haar rond. Sy kan deur ’n venster ’n binnehof sien, en kamers wat daarop uitkyk. Agter ’n gordyn by ’n venster op die tweede verdieping sit ’n rooikopseuntjie. Dit lyk of hy huil. Toe hy haar sien, hou hy op en waai vir haar. Hy vee sy neus aan die gordyn af.
Die Welsynvrou is klaar met die vorms en draai na haar. “En moenie dat tannie nou enige slegte goed van jou hoor nie, nè?” groet sy haastig en vat vlugtig aan Vaselinetjie se rug.
Die koshuisvrou maak die deur na die gang oop en stoot die traliehek weg sodat Vaselinetjie kan ingaan. Sy hoor ’n gefluister in die donker gang.
“Ligte uit, ligte uit!” roep die vrou soos hulle in die gang af loop terwyl Vaselinetjie met moeite haar tas agterna sleep. Die vrou het hare op haar bolip en ken, te grillerig. Vaselinetjie sien dat haar voete skeef trap in ’n paar houseslippers en dat haar hakke skurf en gebars is. Sy is besig om ’n toastbroodjie te eet en lek haar vingers af terwyl sy Vaselinetjie se vorms onder haar blad vasknyp.
“Daar’s verskillende eenhede in die gebou wat almal presies dieselfde lyk. Elkeen word ’n huis genoem en het ’n ander naam en ’n ander huistannie wat na die kinders in daardie huis omsien. Almal se voordeure loop uit in die groot gang in die middel van die gebou,” verduidelik die vrou met haar laaste korsie oor haar skouer.
By die vierde kamer beduie sy vir Vaselinetjie om in te gaan, maar bly skaars vir ’n oomblik in die deur staan om te sien of sy darem ’n oop bed kry.
“Ek’t mos gesê ligte uit,” skel sy by Vaselinetjie verby op die nuuskierige agies wat orals onder beddegoed uitloer.
Vaselinetjie wil haar oë styf toeknyp en net gil en gil tot sy wakker word uit hierdie nagmerrie. Elke bed staan ’n tree weg van die volgende een en elkeen het ’n klein bedkassie en ’n hangkas, maar party van die kaste is sonder deure.
Die vrou skakel die lig af en haar voetstappe verdwyn in die gang af.
“Moenie worry oor haar nie. Jy’s eintlik lucky jy’s in hierdie huis, want sy’s een van die gaafste tannies,” fluister ’n stem uit die bed langs Vaselinetjie s’n.
Vaselinetjie kan nie die persoon se gesig uitmaak nie en sy’s te verskrik om te antwoord. Sy haal haastig haar nighty uit haar tas en trek dit onder die duvet aan sonder om ’n geluid te maak.
Waar is ouma Kitta om haar te kom toemaak? Waar is haar eie groot, sagte bed met die vrolike bedspread en springs wat skiet as sy op hom val? Die bed waarop sy nou lê se matras is so dun dat sy duidelik kan voel waar daar spasies tussen die planke is.
Sy wil gaan piepie en sy wil huil, maar sy’s te bang om te roer of dat iemand haar dalk hoor snuif. Sy druk haar kop diep in haar kussing in om haar bang en haar huil te probeer keer.