Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 15
1
ОглавлениеDie dag voor haar graad 7-jaar begin, besef sy dit. “Al is ek nog net ses maande van die huis af, is ek klaar iemand anders. Ek is besig om iemand heeltemal anders te word as die Vaselinetjie wat vir Ouma versies opgesê en Oupa se pyp gestop het,” verduidelik sy dit vir haarself in die lang spieël in die meisiestoilet wat net uit skerwe bestaan.
Sy draai skuins voor die spieël wat so oud is dat die binnekant afskilfer en jy jouself vol gaatjies sien. Sy steek haar boude uit om te kyk of dit Boesman- of boereboude is, want sy’t al gehoor dat die groot meisies mekaar só spot.
Ten spyte van als sien sy uit daarna dat die skool môre moet begin. Sy is trots daarop dat sy selfs in hierdie aaklige plek goed genoeg gedoen het om ’n sertifikaat vir Beste Vordering by die prysuitdeling te kry. As dit nog by haar ou skool was, sou Ouma en Oupa in die eerste ry gesit het en sodra hulle by die huis kom, sou Oumie haar sertifikaat op die sideboard in die sitkamer staan maak, en op haar kopkussing sou ’n blikkie kondensmelk lê en wag.
Dit was die ou Vaselinetjie en haar ou lewe.
Sy dink aan die aand met die prysuitdeling. Dit wat die mense gedink het wat hulle voor hulle sien, was nie die waarheid nie.
Sy leun met haar voorkop teen die koue spieël. “Ek ís ’n tweegesig …”
Sy het twee lewens en twee stemme. En die een is nou besig om weg te gaan, om vér agter in haar hart gebêre te word. Want haar praat en haar gesig pas nie by mekaar nie, en as ’n mens se goed nie bymekaar pas nie, is jy soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks. Dis wat Killer sê.
“Ís ek dan wat die kinders sê ek is, hè, Killer?” vra sy vir die spieël met trane wat skielik dreig om in haar oë op te stoot. “ ’n Basterblanke?”
Tannie Snorre kondig af almal moet op die kennisgewingbord gaan kyk, want meneer Hefner, die kinderhuishoof, het lyste opgeplak van wie almal moet skuif. Aan die begin van elke nuwe jaar word daar skuiwe tussen die huise gemaak. Soms, as ’n mens ongelukkig in jou huis is en dikwels genoeg jou maatskaplike werker se deur oopstamp sonder om te klop, reël hulle vir jou om te skuif.
Partymaal word kinders na ’n ander eenheid geskuif omdat hulle té goeie maatjies met iemand is. “Vinnig-innig,” noem Kitcat dit.
“Lepellê sal onder geen omstandighede geduld word nie. Jy sal genoeg tyd en geleentheid daarvoor in die tronk hê,” sê die kinderhuishoof as hy ’n kind op iemand anders se bed vang. Meneer hou ook nie daarvan as die kinders in die winter onder dieselfde kombers voor die TV sit nie.
Of hy laat die huistannies die kleintjies se poppe afvat en dan moet hulle die bene en arms uittrek en in die spens opsluit. Daar staan ’n hele boks vol sulke bene en arms in tannie Snorre se spens, het Vaselinetjie al gesien. Sy weet nie hoekom nie, maar as sy vir die ander vra, dan giggel hulle net en sê sy moenie so vieslik wees nie.
So ’n skuiwery, as jy net begin gewoond raak het aan jou bed en jou duvet, jou bedkassie en kas, jou kamermaats en selfs jou tannie, sal ’n mens net meer verlore laat voel, dink Vaselinetjie op pad na die kennisgewingbord. Los van alles. In dié plek moet jy vinnig leer om aan niks en niemand geheg te raak nie.
Sy beweeg haar vinger teen die lys name af. Sy moet na ’n ander huis skuif, maar Killer en Albie bly. Sy wil nie graag van Killer af weggaan nie, want al is Killer soms lekker bitsig met haar, hou sy van hoe Killer altyd verduidelik wat om hulle aangaan. En wanneer haar goed gegaps word, weet sy ten minste al waar Albie se wegsteekplekke is.
Sy gaan kamer toe, maak haar kas leeg en pak haar tas. Haar nuwe kamer is in die oorkantste arm van die gebou. Van nou af sal sy regoor haar ou huis wees, op die tweede verdieping, wat op Killer-hulle se badkamervensters afkyk.
Haar nuwe huismoeder is mevrou Claerhout. Sy hou nie daarvan om tannie genoem te word nie. “Ek en jy is nie familie van mekaar nie, het jy my?” Sy is baie streng en het ’n hoërskoolseun van haar eie, Colin, wat baie stink winde los.
“Erg genoeg dat hy mens se hele perm kan uitpoep,” waarsku Killer terwyl Vaselinetjie inpak.
“En dan sweer hy nog voor sy ma dis die meisies,” sê Albie. “Sy naam is Colin Prop, oorlat hy een nodig het.”
Mevrou Claerhout is ’n baie besliste tannie en baie netjies. Vaselinetjie is eers opgewonde om in haar huis te wees, want sy is ’n bruin tannie wat nogal ’n bietjie soos ouma Kitta klink. Al praat Ouma nie met sulke stywe strepies-lipstick-lippe nie.
Snags dra mevrou Claerhout ’n haarnet oor haar hare, want dis ge-relax, het die ander kinders al vir Vaselinetjie vertel. En as meneer Hefner vir mevrou Claerhout kantoor toe roep, draai Colin Prop sommer woes uit. Hy jaag die meisies met sy ma se haarnet oor sy gesig getrek en laat hulle gril vir sy tong wat deur die blokkies kriewel.
Buite mevrou Claerhout se voordeur, wat in die gang van die hoofgebou uitloop nes al die ander binnevoordeure, is ’n kennisgewing opgeplak: Klop en wag tot jy ingenooi word. As ’n mens nie wag tot sy self kom oopmaak nie, jaag sy jou sommer weer uit.
Die eerste aand toe Vaselinetjie by mevrou Claerhout se huis aanmeld, gaan die deur vanself oop nog voor sy kan klop. Mevrou Claerhout kom uitgestap, maar kyk Vaselinetjie eers vir ’n lang oomblik op en af. “Gaan wag solank binne vir my, jy’s in kamer 2. Moet aan niks vat nie en moenie dat ek jou vang geselsies maak met my seun nie,” sê sy en stap tiek-tak-tiek-tak met haar halfmashakkies in die gang af.
Vaselinetjie staan ongemaklik net binne die voordeur en rondkyk. Elke huiseenheid is dieselfde, maar die tannies versier hulle eenhede verskillend. Party maak dit mooi en ander los dit net soos hulle dit gekry het.
Aan die een kant is ’n oopplankombuisarea met ’n stoorkamertjie wat daaruit lei. Vas aan die oopplankombuis is die langwerpige sitkamer waar die kinders se rye opslaan-studeertafels staan. In die verste hoek van die vertrek is ’n ou televisiestel, ’n bank en ’n ekstra bed. Die meeste huise se TV’s werk lankal nie meer nie, want die kinders wat orig en niks gewoond is nie, druk aanhoudend die knoppies tot dit blaas. Saans moet elke huismoeder godsdiens op die bank en ekstra bed hou, of sy nou glo die Liewe Heiland kan haar uit dié hel vol sondige kinders red of nie, kla tannie Snorre altyd.
Die stuk mat by die TV is die dikste en dis die plek waar ’n mens moet duik as jy sien iemand gaan jou gesig in die vloer instamp, het Killer vir Vaselinetjie geleer.
Mevrou Claerhout is ’n lady, dink sy in haar skik, want sy sien al die studeertafels het tafeldoeke oor wat by mekaar pas. Ook die gordyne is nie die gewone kinderhuismateriaal nie, dit het groot, vrolike blomme op. Daar is boonop portrette teen die muur en die skoolfoto’tjies van vorige jare se kinders is in rye op die stoorkamertjie se deur geplak.
Een foto is van ’n skare mense wat toi-toi en tussen die hordes overalls kan sy vir mevrou Claerhout en iemand wat baie na tannie S’laki lyk, uitmaak. Sy buk net af om dit van naby te bekyk toe ’n verskriklike lawaai skielik agter haar uitbars.
“Nou is die heilige hel los!” skree ’n ouer meisie met hare wat skrou-oranje gekleur is. Sy kom ingestorm, stamp vir Vaselinetjie uit die pad en probeer by die kombuisarea invlug, maar dan is ’n hele klomp groot meisies op haar. Dié wat nie deel van die geveg is nie, skree en moedig die bakleiers aan.
Ander drom in die sitkamer saam en kyk benoud toe. “Julle, néé! Hou op voor die tannie terugkom en ons almal gehok word,” kerm iemand.
Vaselinetjie kyk verstar hoe die oranjekop uit die groep losbreek. Sy storm by Vaselinetjie verby en pluk ’n laai in die kombuis oop. “Vrek, julle werfetters!” skree sy broodmes in die hand terwyl sy oor die toonbank terug in die aksie in spring.
“Pasop!” gil Vaselinetjie voor sy kan dink om nie betrokke te raak nie. Die ander kinders storm soos een man van die oranjekop af weg, die gang af, maar die agterdeur is gesluit en die groep word voor die sekuriteitshek vasgekeer.
Iemand kom agter die oranjekop uit die badkamer en kap haar teen die kant van haar gesig met die skerp hak van ’n skoen. Sy val skuins teen die oorkantste gangmuur dat haar bloed ’n streep oor die muur trek. Vaselinetjie voel die naar in haar opstoot.
Die oranjekop het nog nie behoorlik die grond getref nie, toe is die groep op haar. Hulle hou aan om haar te skop al roer sy nie eens meer nie.
Vaselinetjie moet hard sluk om nie op te gooi nie. Sy druk haar hand oor haar mond en sak agter die kombuistoonbank in. Sy huil sonder om ’n geluid te maak en voel net hoe haar pie nat teen haar bene afloop.
In haar kop maal dieselfde sin oor en oor: Hier moet ek wegkom. Ek móét net!
Van die jonger meisies wat nie deel van die bakleiery was nie, probeer by die voordeur uitkom. ’n Swart meisie, Denise Toolo, van wie Vaselinetjie al gehoor het dat die ander haar ’n mannetjieswyfie noem, het ’n belt om haar vuis gedraai. Sy blokkeer die voordeur sodat niemand kan uit nie. Die lawaai is so erg dat hulle nie eens agterkom dat meneer Hefner se stem aanhoudend oor die interkomstelsel af kondig nie.
“… die leerlinge verantwoordelik vir die insident in mevrou Claerhout se eenheid …” dring die stem uiteindelik tot haar deur, “… dit is julle laaste waarskuwing. Indien julle nie al julle voorregte wil verbeur nie …”
Sy is verbaas dat die stem nie juis omgekrap of kwaad klink nie. Eerder soos iemand wat verveeld is met die situasie.
“Hefner!” sis die mannetjieswyfie en gee van die voordeur af pad. Die ander skarrel in die gang af om by hulle kamerdeure te staan en loer, sodat hulle kan sê hulle was nie naby die baklei gewees nie.
Vaselinetjie wil huil van verligting toe mevrou Claerhout en meneer Hefner ingestap kom. Nou sal als uitgesorteer en weer rustig gemaak word, dink sy bewerig.
Al die meisies se oë is vasgenael op die hoof. Hy stap stadig in die gang af. Die meisie met die oranje hare lê nog net waar hulle haar gelos het. Vaselinetjie kan haar broekie sien uitsteek, want haar romp het oor haar bobene opgeskuif. Niemand bodder om dit reg te trek nie.
Die hoof draai na mevrou Claerhout. “Is dit die tipe beheer wat jy oor jou huis het, mevrou?” vra hy smalend.
Vaselinetjie sien hoe die tannie se oë tranerig word en haar hand vroetel met die bossie sleutels aan haar belt. “Jammer, meneer, ek het nie besef wat hier gaan gebeur nie. Daar was nie ’n teken van onraad toe ek uit die huis is nie,” probeer sy haarself verdedig.
Die hoof loop verder in die gang af om die badkamer ook te inspekteer. Hy krap met ’n tandestokkie in sy mond en dan weer teen die mure waar die verf in blase afdop. Hy loop reg verby die meisie wat kreunend in die gang lê sonder om eens een keer na haar te kyk. Vir ’n oomblik vang Vaselinetjie sy oë op die meisies se gewaste onderklere wat aan die badkamerhakies hang.
Hy sê niks oor die geveg nie. Haal net sy sakdoek uit sy broeksak, snuif, vou die sakdoek ’n paar maal en sit dit terug sonder om sy neus te blaas. “Julle sal hierdie muur skoon kry en die bloed afwas, mevrou, voor enigiemand weer oor daardie drumpel tree. Ek betaal nie nog ’n maal om dit te laat oorverf nie.”
En met dié stap hy by die voordeur uit. Vaselinetjie hoor hoe hy dit met sy loper van buite af sluit. Nou’s almal ingehok, mevrou Claerhout ook.
“Hok” is een van die woorde wat deel geword het van Vaselinetjie se kinderhuislewe. “Om gehok te wees, beteken jy mag nie uitgaan nie, al voel jy ook of jy jou trollie self by die afgrond gaan afdrywe,” het Killer haar in haar eerste week al touwys gemaak.
Huishok beteken jy mag in die huis rond beweeg, net nie by die deur uit nie. Kamerhok beteken jy moet in jou kamer sit, en bedhok is wanneer jy nie eens ’n toon van jou bed af mag beweeg nie. Alle straf word in jou straflêer opgeskryf en jy moet daarvoor teken.
“Vat haar hier weg!” beduie mevrou Claerhout ontsteld na die oranjekop. Dit lyk of sy meer omgekrap is oor die hoof se optrede as wat sy omgee oor die meisie wat in die gang lê.
Nie een van die grotes wil help nie, dus is dit Vaselinetjie en die ander jonger meisies wat die broodmesswaaier sleepdra tot by haar bed in kamer 2, Vaselinetjie se nuwe kamer. Die meisie huil en Vaselinetjie gril vir die donker taaierigheid in haar hare en tande.
Mevrou Claerhout staan en kyk net met haar hande in haar sye. “As julle mekaar wil uitwis, doen dit. Julle poppies sal ondergaan voor julle mý tot ’n val bring. Ek is nie julle speelmaat nie en ek is ok nie gister gebore nie,” sê sy en dit voel vir Vaselinetjie of sy reguit na haar kyk. “Julle sien my nie weer voor môreoggend nie. As ek nou hierdie woonsteldeur agter my sluit, kom ek nie weer uit nie, al hoor ek ook wat. Dit kan ek julle ’n briefie voor gee, come hell or high water. En wanneer ek môre my woonsteldeur oopmaak, verwag ek dat hierdie hele storie uitgeklaar moet wees. Julle is nie die enigste skepsels met human rights nie. Het julle my?”
Met dié slaan sy haar woonsteldeur agter haar toe en Vaselinetjie staan gevries en luister vir die tweede maal na die draai van ’n sleutel in ’n slot.
Sy skuifel ongemerk agteruit na waar haar tas nog in die sitkamer staan. Wie slag vir wie? Sy gaan haar tas as skerm gebruik.
Niks gebeur egter nie. Die kinders is al klaar weer uitgekuier met die drama. Almal raak met hulle eie goed besig. Die grotes skree oor en weer wie watter bad deps asof niks gebeur het nie. Niemand steur hulle aan Vaselinetjie nie. Sy sleep haar tas na kamer 2 en tot by die enigste oop bed.
“Wat kyk jy, hè? Het jy ’n entjie?” Een van die groot meisies wat ’n voorbok in die geveg was, kom in met die broodmes in haar hand. Sy het shortie pajamas aan en is baie mooi, behalwe vir ’n lelike letsel wat van haar een mondhoek oor haar ken loop. Vaselinetjie hou haar oë op haar tas en skud net haar kop.
Die meisie loop na die hoek van die kamer waar die oranjekop nog kreunend op haar bed uitgestrek lê. “Eat me, Pizzaface!” skree sy koggelend en druk die broodmes skuins deur haar panty se rek.
Onder in die gang lag die mannetjieswyfie hard. Sy slaan in die verbyloop met haar belt teen die muur van elke kamer, want al die deure is afgeskroef.
“Daai teef wat haar verbeel sy’s Miss Universe is Tara Papadopoulos,” fluister ’n stemmetjie. Vaselinetjie sien nou eers daar’s iemand wat tussen Pizzaface en die volgende bed op die vloer skuil.
“Tara rek net haar bek as sy haar butch kamermaat by haar het, en Denise Toolo probeer gatkruip om by die wittes in te wees en ons almal weet presies op watter manier,” fluister die stemmetjie verder. “As jy in hierdie kamer ingedeel is, beter jy vannag nie in jou bed slaap nie. Netnou kom daai bitches terug vir Pizzaface en dan sal hulle vir ons ook kry.”
In die skemer kan Vaselinetjie uitmaak die fluisterstemmetjie behoort aan ’n meisie met kort swart hare en lewendige swart oë. “My naam is Lolita, maar almal hier noem my Puck. Dis omdat ek in ’n Shakespeare-opvoering was. As ek eendag ’n seuntjie het, gaan ek hom ook so noem. Jy moes al oor die interkom by die skool gehoor het hulle roep my gedurig. Ek’s omtrent die enigste van die kinderhuiskinders wat gevra word om boodskappe oor te dra. Seker oor ek kan Engels praat. Do you speak English?”
“Nee,” fluister Vaselinetjie. Sy’s te bang om die lig aan te skakel en probeer in die donker uitpak. Puck praat volstoom sonder om tussen haar sinne asem te haal, maar so sag dat Vaselinetjie moet konsentreer om te hoor.
“Pizzaface, yo?” skud Puck aan die oranjekop. “Jy moet van hierdie bed afkom, hoor jy? Kom rol onder my bed in, dit sal veiliger wees, okay?”
Pizzaface druk net haar gesig dieper in haar kussing in. Puck trek haar smal skouertjies op en wys vir Vaselinetjie dat hulle in die gang moet afsluip na die sitkamer, waar al die ligte reeds afgeskakel is.
Sy sê die beste slaapplek vannag sal onder die studiebanke wees, naaste aan die gordyne waar dit die donkerste is. Puck laat Vaselinetjie dink aan ’n muis wat slim op stil voetjies sluip. Sy sien hoe Puck ’n blik Doom onder die kombuiswasbak uithaal en voor by haar hemp insteek.
“Dis om hulle mee in die gesig te spuit as hulle kom skoorsoek. Dit kan jou blind maak. Vir altyd.”
Lank ná Puck al vas aan die slaap is, lê Vaselinetjie nog na die pote van die stoele en kyk. Die sekuriteitsligte skyn in bane deur waar die gordyne nie dig genoeg toegetrek is nie. Sy luister na al die klanke in haar nuwe eenheid. Hoe iemand toilet toe gaan sonder om dit te spoel ná die tyd.
Uit die laaste kamer, die enigste een wat nog ’n deur het en wat die Holiday Inn genoem word omdat dit die beste kamer in die huis is, kom musiek. Net die prefekte en die hoofmeisie mag elektrisiteit vir haardroërs en CD-spelers gebruik. Tara is die hoofmeisie, so sy mag. Denise Toolo is haar lyfwag.
Iewers in die nag skrik Vaseline wakker en stamp haar kop teen die tafel se rand van vinnig regop sit. Eers weet sy glad nie waar sy is nie, tot sy Puck se blinkswart hare in die maanlig herken. Puck prewel in haar slaap. “No, please Mommy, no!”
Twee dae later hoor Vaselinetjie in die TV-kamer die afkondiging dat daar telefoon vir Pizzaface is. Sy herken Tara Papadopoulos se stem. Prefekte mag ook die interkomstelsel gebruik as daar nie ’n huismoeder naby is om ’n afkondiging te maak nie.
Vaselinetjie voel onmiddellik dat iets skort. Dis ’n lieg, een of ander tipe lokval. Mevrou Claerhout lig haar kop van die tydskrif wat sy besig is om te lees. Haar gesig wys dat sy presies dieselfde dink, maar dat sy niks daaraan gaan doen nie. Sy staan op en loop na haar woonstel, waar sy die deur agter haar toetrek.
“Jeeha, dis vir my, dis my nefie!” storm Pizzaface by die agterdeur in en by Vaselinetjie verby soos ’n kameelperd op spoed sonder dat sy haar kan keer. Iemand het vir Vaselinetjie gefluister dat Pizzaface se nefie ook haar boyfriend is, maar sy glo dit darem nie. Jik!
Vaselinetjie kyk benoud rond of sy nie iewers vir Puck gewaar nie, maar daar is niemand in die boonste gang wat sy kan vertrou nie. Sy spring by die trappe af en hardloop verby die sekretaresse na meneer Hefner se kantoor. Maar sy deur is toe.
Nog voor Vaselinetjie by die maatskaplike werkers se kantore onder in die gang kom, hoor sy die dowwe paf-paf-geluide wat sy nou al so goed ken. Haar binneste ruk toe sy om die draai kom, al het sy die ergste verwag.
Tara se makkers hou vir Pizzaface by die tiekieboks onder in die hoek vas terwyl Tara haar met die vuis bydam. Pizzaface hyg asof haar wind uit is en Tara stamp haar hard met ’n opgeligte knie tussen die bene. Denise Toolo se hand is oor Pizzaface se gesig en mond gedruk sodat sy net ’n hoeserige gesteun uitkry. Uitgeplukte bossies oranje hare lê oral op die vloer.
Vaselinetjie se bloed kook oor haar brein en sy vergeet skoon van haar bang vir die groot meisies.
“Hou op! Stoppit!” gil sy en bespring Tara van agter af. Sy kry haar aan die kop beet en die hoofmeisie steier vorentoe in die tiekieboks in. Vaselinetjie weet nie meer wat sy doen nie, sy weet net as sy nou ophou, gaan hulle háár bloed van die mure moet afwas. Sy voel haar hande om Tara se keel, maar sy wurg haar nie. Sy grawe in sagte vleis in om haar lugpyp uit te ruk.