Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 4
ОглавлениеSy’t gehoop alles sou oor wees teen die tyd dat dit lig word.
Sy’t gehoop die maan sou vol wees, sodat sy beter kon sien waarheen.
Sy’t gehoop sy gaan dood voor die nuwe dag. Vroegaand al begin voel die tyd kom nader.
Haar bangtyd.
Haar geheim wat uiteindelik uit haar lyf sou weggaan.
Haar huiswerk was klaar en sy’t gemaak of sy vroeg gaan slaap. Kamer toe gegaan en die goed uitgehaal wat sy al lank in ’n sak onder in haar kas weggesteek het. Sy’t haar kamerdeur gesluit en by die venster uitgeklim.
Niemand sou iets agterkom nie.
Niemand sou haar kom soek nie.
Wie gee in elk geval om?
Die laaste paar maande het die huismense gewoond geraak daaraan dat sy haar eie ding doen. Dat sy nie wil praat nie. Dat sy huil en nors is en vir als skrik. Dat sy soggens heel eerste opstaan en dat die badkamer soms na opgooi ruik.
Maar as iemand dalk gedink het iets skort, het niemand genoeg omgegee om uit te vra nie.
Sy was alleen.
’n Ent weg van die huis af het die pyn begin. Dit was baie erger as wat sy verwag het. Sy’t vasgebyt in die handdoek wat sy saamgebring het, maar later kon sy haar skree nie meer inhou nie.
Sy moes verder. Iemand sou haar hoor as sy só aanhou kerm en skrou.
As sy net agter die eerste koppie kon kom!
Eers het sy net gestap – tot buite die dorp, tot agter die begraafplaas se laaste muurtjie. Niemand kom ooit daar nie. Sy het presies geweet waarheen om te gaan, want sy het maande gelede al na al die plekke gaan kyk. Soos ’n kat voor die tyd ’n veilige hoekie in ’n krat vir haar werpsel gaan soek.
Dit was al heeltemal donker. Sy’t ’n paar keer skeef getrap en ander kere van pyn inmekaargesak sodat die klippertjies haar knieë gevreet het.
Ver weg het sy die oranje gloed van die laaste vuurtjies in die lokasie gesien en haar gehyg probeer stil hou om te luister of die stemme nie dalk nader kom nie.
Dit was die langste en bangste nag van haar lewe.
Met die eerste lig het sy nie meer omgegee nie. Nie oor wat gebeur nie, nie oor hoe sy besig was om dood te bloei nie. Sy was te moeg.
Sy het dit nie tot heeltemal by die klipkoppie gemaak nie. ’n Paar meter weg het sy afgesak onder ’n sonbesiebos wat uit ’n rots groei.
Iewers in die oggend het sy ophou kreun en net gelê terwyl die son die bloed op haar klere en teen haar bene af taai bak.