Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 22

WAAROM?

Оглавление

Waarom het jy vandag aan my hand gevat?

met jou oë windblou en groot soos ’n hartseer,

met jou bors verlate en skraal soos ’n strand

waarop ek kon dwaal

met jou gedagtes om my enkels;

waarop ek kon huil

met jou gesig donker in my hare;

waarop ek kon lê

met my vuiste in die skadu’s van jou arms.

Waarom het jy vandag vir ’n oomblik

in die deur van jou oë kom staan?

net sodat ek daelank deur die

bome van my hart loop en luister

na die monnike van jou hande,

hoe hulle soms nog na my soek;

net sodat ek daelank oor jou

loop en wonder.

Eerste gedigte

Подняться наверх