Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 27
WAT HET DAAR OORGEBLY?
ОглавлениеWat het daar oorgebly van ons saamwees?
Wat is daar om te wys vir hierdie skraal wind
vir hierdie bleek dag?
Wil julle weet van ons hardloop oor die nat straat
oor die skewe brug?
Wil julle hoor van sy bruin hare
sy bruin trui
die bruin rivier, die riete
die wilgers met hulle
bruin swepe in die water?
Of dalk wil julle weet van die grys middag
met die vyfde simfonie,
toe ons begin het om met passers te gooi.
En nou, wat het daar oorgebly van
alles wat mooi was?
’n hopie briewe, ’n poskaart
’n foto êrens in my kas?
Nee, net ’n rouplek
waar ons twee aan mekaar vas was.