Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 30
ONDERWYSER
ОглавлениеJy staan voor ons in die klas
by jou tafel, by jou moedertaal
by jou boeke, jou hoedjie en jou tas
Jy staan voor ons soos ’n klein Jericho
en al het jy mure om jou gebou
dra jy tande van silwer en goud
en al het jy wagters in al jou torings
bly daar ’n Ragab in jou
Tog bly jy sterk,
al trek ons elke dag óm jou
met die ark van die jeug op ons skouers,
met trompette van ligsinnigheid voor ons monde
Tog bly jy werk,
al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
want Malherbe is jou here en
Totius jou god.