Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 10

Om God se Woord te bid

Оглавление

Wil jy hê jou gebede moet meer krag dra? Bid God se Woord. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard” (Heb 4:12). Wanneer jy die Woord spreek of bid, tree jy in ooreenstemming met God en sy Woord op, en só word sy krag vrygestel om ons gebede te beantwoord.

Miskien dink of glo jy dat God nie jou gebede beantwoord nie, of miskien weet jy nie waarvoor om te vra in sekere omstandighede nie. “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh 5:14).

Die voordeel wat gebede gegrond op die Skrif inhou, is gewaarborgde geestelike groei omdat ons daardeur leer wat God vir ons oor ons lewensomstandighede sê. Dit help ons om te verstaan hoe ons behoort op te tree of te glo. God se Woord is ook ’n roetekaart ten opsigte van hoe ons teenoor moeilike mense behoort op te tree. Só kan jy in tere bewondering tot God bid of vra vir die beskerming van jou gesin. Jy kan bid vir goeie gesondheid of vir die herstel van jou huwelik. Jy kan bid vir diegene wat Jesus nodig het én ook vir dié wat teruggeval het. Jy kan bid vir jou kind wat onverskillig leef of vir antwoorde op ’n moeilike saak.

’n Verbintenis tot die bid van God se Woord

Min mense hou van ’n verbintenis tot iets buitekant die raamwerk van die alledaagse, en hulle sê ook gou: “Ek het nie tyd vir nog ’n verbintenis nie!” As jy wil hê jou omstandighede moet verander, moet jy jou tot gebed verbind, en veral daartoe om die Woord van God hardop te bid. Dit behoort gereeld gedoen te word. My aanbeveling is dat daar elke dag van elke week só gebid moet word. Dán sal jy sien hoe jou gebedslewe verander, en hoe jy in oorwinning begin bid deur die kragtige Woord van God in jou mond en in jou hart te lê. Só ’n bidder sal oorwinning ervaar op elke gebied van sy of haar lewe: by die huis, in die huwelik, by die werk, in verhoudings, in finansies; trouens op alle gebiede waarby die bidder betrokke is. Gebed is soos ’n sleutel wat ’n ryk geestelike lewe ontsluit. Bid die Woord hardop, al fluister jy dit net. Daardeur spreek jy God se wil hardop uit. Sodoende hoor jy self die gesproke Woord en neem jou geloof toe (vgl. Rom 10:17), en geloof behaag die Here (vgl. Heb 11:6).

Kragtige gebede

Подняться наверх