Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 13

Die voordele daarvan om die Woord te bid

Оглавление

Miskien wonder jy waarom dit enigsins nodig is om juis God se Woord te bid. Talle voordele is hieraan verbonde.

Dit bevorder geestelike groei

Deur die Woord van God te bid, word geestelike groei by die bidder bevorder. Ons verkry daardeur ’n beter begrip van wat God se wil is rakende sekere sake. Deur sy Woord te bid, bevestig jy dat jy in ooreenstemming met God en sy Woord optree, nie net in wat jy doen nie, maar ook in jou denke. En daar kan slegs goeie gevolge voortvloei as jy in jou denke sowel as jou dade in ooreenstemming met God is.

Dit betrek God by ons lewe

Deur God se Woord te bid, spreek jy sy wil hardop uit en ontwikkel jy ’n vertroue in God en sy Woord en die vermoë wat die Here het om ons perspektiewe oor wêreldse sake te verander. Daardeur betrek ons die Here by ons lewe. Ons weet dat ons ons sorge en die stres van die moderne lewe voor die Here se voete kan neerlê wanneer ons Hom by al ons sake betrek. Ons kom lê dit alles voor Hom neer en verklaar sodoende ons afhanklikheid van God.

Verder is Skrifgebede baie maklik om te lees en as jy dit gereeld lees (elke dag van elke week), raak jy só vertroud daarmee dat jy dit later sal kan herroep wanneer jy met bepaalde situasies gekonfronteer word. Sonder dat jy dit weet, word dit deel van jou wese en kan jy dit toepas wanneer dit nodig is. Jy sal dit onwillekeurig bid sonder dat jy dié materiaal byderhand het.

Dit bring eer aan God

Jy vereer God wanneer jy sy Woord bid, want hierdeur bevestig jy dat jy Hom glo, en reageer jy op sy waarheid. Hierdie uitdrukking van ons geloof behaag God. Dit bring eer aan Hom wat alle eer waardig is.

Dit verander die bidder

Die mens wat in geloof die Woord van God bid, sal nie dieselfde bly nie. Deur die Woord te bid, sal jy van binne af vernuwe word. Enige ingesteldheid wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie, sal verander. ’n Negatiewe of vreesagtige ingesteldheid sal vervang word met ’n positiewe ingesteldheid en vertroue in die Een wat omstandighede kan verander.

Wanneer ons verstaan wat die Here se beloftes aan ons in sy Woord behels, is dit ’n natuurlike reaksie om in geloof en vertroue sy Woord te bid. Sodoende oefen jy jou geestelike priesterskap uit oor jou eie lewe en dié van jou gesin, jou familie, jou vriende en alles wat betrekking het op jou lewe. Sodoende tree jy in geloof in vir dié mense en sake waarvoor en waaroor jy omgee. Gelowiges is geroep om vir ander in die gebed in te tree. Ons is bestem om hierdie roeping na te kom.

Wanneer gelowiges in ooreenstemming met God en sy Woord leef en optree, en God se Woord spreek én uitleef, sal hierdie selfde Woord kragtig tot vervulling kom en verandering meebring. God se Woord sal nie leeg na Hom terugkeer nie (vgl. Jes 55:11). Die krag van sy hemelse Woord sal ons aardse bestaan radikaal verander.

Dit vernuwe jou gemoed

Deur die Woord te bid, sal jou gemoed vernuwe word. Jy sal op ’n nuwe, kragtiger manier dink. Die Here leer ons dat alles moontlik is vir mense wat glo. Só word jou denke verander vanaf “dis onmoontlik” na “alles is moontlik”. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom 12:2; klem bygevoeg). “En dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed” (Ef 4:23; klem bygevoeg).

Dit vernuwe jou gedrag

Of ons dit wil erken of nie, ons tree volgens ons denke op. Soos ’n mens in sy hart dink, so tree hy op. En soos wat jou denke vernuwe word, sal jou gedrag ook vernuwe word. Jou gedrag sal mettertyd die waarhede van God se Woord weerspieël. God se hart en sy gedagtes word vervleg met joune, en sodoende begin jy om die Here se gedagtes en bedoelings sigbaar uit te leef.

Jou lewe verander

Paulus het vir die gemeente in Korinte geskryf dat hy gou na hulle sou kom: “[…] as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie die woorde van dié wat opgeblase is nie, maar hulle krag; want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag” (1 Kor 4:19-20). Ons bediening bestaan nie uit opgeblase woorde nie, maar uit krag. Deur die Woord van God te bid, sal jou kragtelose lewe tot ’n kragdadige lewe verander word, ’n lewe wat van groei en vooruitgang getuig. Ja, dit is beslis wat dit is! Dit is waarna ons op soek is, ’n lewe wat verander sodat jy hemelse krag ontvang en bonatuurlike groei plaasvind. Hierdie soort lewe begin op die pad waar die eerste treë in geloof gegee word deur God se Woord hardop te bid. Dit is vryelik beskikbaar vir almal. En dit getuig dat alles moontlik is vir dié wat glo, vir dié wat God loof en eer!

Kragtige gebede

Подняться наверх