Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 16

Hoe om gebede te benader wat op die Woord gegrond is

Оглавление

Die doeltreffendste manier om gebede wat op die Skrif gegrond is jou eie te maak en die krag daarvan te ontdek, is deur ’n selektiewe en persoonlike benadering te volg. Verskillende behoeftes vereis verskillende benaderings. Doen navorsing oor die verskillende onderwerpe wat jy verkies en kies dié teksverse wat die beste op jou spesifieke situasie van toepassing is.

Die teksverse wat in hierdie boek saamgevat word, kan verpersoonlik word deur persoonlike voornaamwoorde by die verse in te sluit. Hier is ’n voorbeeld van hoe jy dit kan doen: “Here, help Johan en Martie om aan my en Gertruide (hul ouers) gehoorsaam te wees in die Here en om ons te eer sodat dit met hulle goed mag gaan en hulle lank mag lewe op hierdie aarde” (vgl. Ef 6:1-3). “Laat my en Gertruide se huwelik in alle opsigte Christus en sy gemeente uitbeeld, sodat ons mekaar sal liefhê” (vgl. Ef 5:25-32). “Here, help my om Marius en Freek, wat my vyandiggesind is, lief te hê. Gee dat ek hulle sal seën as hulle my vervloek en aan hulle goed sal doen ten spyte van hul haat vir my en dat ek vir hulle sal bid wanneer hulle my beledig en vervolg” (vgl. Matt 5:44). “Here, ek bid dat dit met Koos en Hannalie in alles sal goed gaan en dat hulle gesond sal wees” (vgl. 3 Joh 2). “Here, ondersteun my buurman op sy siekbed; verander sy hele slaapplek omdat hy krank is” (vgl. Ps 41:4). “Ek bid dat U vir Rustenburg se inwoners ’n nuwe hart en gees in hul binneste sal gee” (vgl. Eseg 36:26). “Mag Rustenburg se inwoners tot inkeer kom en hulle bekeer, sodat hul sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van u aangesig oor die stad mag kom” (vgl. Hand 3:19).

Die styl van jou gebed sal bepaal word deur hoe doelgerig en persoonlik jy is. Jy sal die verse makliker deur assosiasie onthou. Dit sal jou in staat stel om meer energiek en vreugdevol te kan bid. Soos jy sien hoe jou gebede beantwoord word, sal jou geloof toeneem. Dit is wat die beker van vreugde van ’n bidder van die Woord laat oorloop!

Dit help om ’n joernaal te hou van die mense en sake waarvoor jy bid, sodat jy later rekord kan hou van die resultate van jou gebede. Dit kan dien as ’n getuienis van die goedheid en die grootheid van God.

Wanneer jy bid, moet jy verwag dat jy gou die antwoord daarop sal sien. Volhard in die gebed en in jou verwagting. Moenie sommer tou opgooi nie. Dank die Here gedurigdeur vir dit wat jy verwag om binnekort te sien. Hierdie soort deursettingsvermoë en kinderlike geloof maak die Here baie bly.

Kragtige gebede

Подняться наверх