Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 19

Redes waarom mense nie bid nie

Оглавление

Voordat ons voortgaan met voorbeelde van tematiese gebede, sal dit goed wees om stil te staan by die verskillende redes waarom mense nie bid nie, en om hierdie verskillende redes te ondersoek.

Ek het geen begeerte om te bid nie

Sommige mense sal sê dat hulle geen begeerte het om te bid nie, maar dikwels kom dit eerder aan op geen tyd nie, eerder as geen begeerte nie. Hierdie mense kan beskryf word as selfonderhoudend, talentvol en goeie bestuurders van hul tyd. Die enigste tyd wat in so ’n besige mens se besige skedule aan die Here afgestaan word in gebed, is Sondag tydens die erediens. Tog roep hulle die Here aan wanneer daar ’n krisis is en wanneer hulle Hom dringend nodig het. Hierdie mense moet onthou dat al hul bekwaamhede en talente beperk word sonder ’n gesonde en sterk verhouding met die Here Jesus.

Ek het nie genoeg tyd om te bid nie

Tyd word deur die Here aan ons gegee, en ook elke asemteug wat ons neem. Dit is alles in God se hande. As ’n mens tyd inruim om met die hemelse Vader te praat, sal Hy jou tyd vermeerder. Hy sal jou toerus om jou prioriteite te orden en vir jou meer tyd teruggee as wat jy dink moontlik is. As jy te besig is om te bid, is jy te besig om te leef!

Dit is moeilik om vroeg op te staan

Min mense hou daarvan om vroegoggend te bid. Die meeste van ons beskou dit as uiters moeilik. Ons almal weet hoe swak die vlees kan wees, maar die Gees binne jou smag daarna om tyd met die Vader deur te bring. Dit is nie maklik nie, maar met toewyding en opoffering is dit beslis die moeite werd.

Ek weet nie hoe om te bid nie

Moet jou nie te veel kwel oor hoe om te bid nie. Gebed is niks meer of minder as ’n lieflike gesprek met jou hemelse Vader nie. Wanneer jy die Woord bid, sal dit jou al die nodige leiding gee wat jy nodig het om te leer hoe om te bid.

Kragtige gebede

Подняться наверх