Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 4

Inleiding

Оглавление

Ná bykans dertig jaar in die heeltydse bediening word ek steeds gedurigdeur bewus gemaak van die hunkering van kinders van God om die “regte” gebede te bid. Baie mense het nie die vrymoedigheid om in die openbaar te bid nie, nie voor hul eie gesinne nie en ook nie in kleiner groepies of by kerkbyeenkomste nie. Die grootste rede hiervoor is ’n gebrek aan kennis (vgl. Hos 4:6). Mense weet nie wat en hoe om te bid nie.

Dis my begeerte om jou toe te rus. Kragtige gebede is ’n goeie vertrekpunt om jou persoonlike gebedslewe te verander en om jou meer vrymoedigheid te gee om alleen en saam met ander te bid. Ek het ’n menigte Skrifte ondersoek en verwerk om hierdie handleiding in jou hand te plaas. Hierdeur het ek opnuut besef watter geweldige krag losgelaat word wanneer die Woord van God, wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, uit die mond van ’n gewone mens begin vloei. Die inspirasie wat binne-in jou ontstaan, is onbeskryflik. Op hierdie manier bring jy die gedagtes van God voort en spreek jy gees en lewe (vgl. Joh 6:63).

Deur die Skrif te bid, word gesonde geestelike groei gewaarborg. Soos wat jy die geïnspireerde Woord daagliks hardop bid en dit aanhoor, sal jy begin verstaan hoe jy behoort op te tree of behoort te glo. Die Bybel leer ons dat geloof uit die gehoor kom en die gehoor uit die Woord van God (vgl. Rom 10:17). Terwyl jy die Skrif hardop bid, sal jou geloof begin groei. Verder sal jou kennis van die Woord grootliks toeneem. Oor die jare heen was mense verstom oor my vermoë om die Skrifte te kan aanhaal. Ek het beslis geen fotografiese geheue (soos sommige bespiegel) nie. Nee. Die kuns lê in die herhaling van en aanhoudende blootstelling aan die Woord. Dis blote inoefening totdat jou siel daarvan deurdronge is. Jy sal dus oplet dat die Skrifte in hierdie boek vir gebedsdoeleindes aangepas is, maar die inhoud en die betekenis daarvan bly onveranderd. Elke gebed word van ’n teksverwysing vergesel. Elke Skrif wat ek herhaalde kere bid, word stelselmatig in my siel ingeëts. Omdat omtrent elke woord van hierdie gebede met die Skrif deurspek is, het my gebede trefkrag. Ek bid in die Gees, soos die Bybel beveel (vgl. Jud 1:20). Ek kom dus met groot vrymoedigheid na die troon van genade (vgl. Heb 4:16). Op hierdie manier behaag my geloof die Here en kan ek verwag om beloon te word (vgl. Heb 11:6).

Elke woord van Kragtige gebede kom voort uit jare lange, persoonlike ondervinding in die bediening. Dit verseker dat hierdie boek nie net ’n boek is wat ’n mens lees en wegbêre nie, maar eerder ’n handleiding wat jy by jou kan dra totdat gedurige gebed ’n lewenswyse by jou word. Ons behoort daagliks te bid. Bid die Skrif. Eindelik sal hierdie gebede so ingeoefen wees dat jy sonder hierdie boek jou gebede tot God sal kan rig. Jy sal onbeskaamd vir jou en ander se gesondheid, vir jou huwelik en vir jou kinders kan bid. Jy sal vurig kan bid vir mense wat teruggeval het, vir jou gemeente, in jou gemeente en in die openbaar.

Jy sal ’n onstuitbare bidder word.

Hierdie handleiding gee vir jou duidelike riglyne waarvolgens jy die Woord van God kan bid. Die gebede kan vir jou unieke, persoonlike situasie toegepas en aangepas word. Die voordele hiervan is eindeloos. Waarna soek ons eindelik? Ons is op soek na ’n veranderde lewe wat hemelse krag opwek en bonatuurlike vooruitgang en groei bewerkstellig. Mag dit so vir jou en jou geliefdes wees, soos wat jy sonder ophou bid (vgl. 1 Tess 5:17).

Arthur Odendaal

2013

Kragtige gebede

Подняться наверх