Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 22

Hoe moet ons bid?

Оглавление

Onthou dat die vyand van jou siel, Satan, jou sal probeer oortuig dat jou gebede nie verhoor word nie. Hy sal poog om jou fokus van God af weg te neem en dit op jou probleem te plaas. Hy sal probeer om jou te laat praat soos iemand wat onseker is of sy of haar gebede verhoor word. Indien hy sou slaag om jou mond opnuut met twyfel te vul, sal hy jou gebede waardeloos maak. Waak dus oor jou hart en jou mond en weerstaan die versoeking om negatief te praat oor sake wat jou of ander raak.

Wees vasberade en neem die beheer oor jou denke oor. Dink aan positiewe dinge (vgl. Fil 4:6-9). Deur God te loof en sy Woord voortdurend te bely, kan jy elke gedagte verwerp wat jou gebedslewe kan benadeel. Hierdie gedagtes is soms maar net die insprake van die vyand wat jou gebedslewe wil ondermyn. Hou dus aan om te bely wat die Woord omtrent jou behoeftes sê. “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou” (Heb 10:23). “En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskrywe is: Ek het geglo, daarom het ek gespreek – glo ons ook, daarom spreek ons ook” (2 Kor 4:13).

God het Abraham aangemoedig om sy nageslag te sien soos die sterre aan die hemelruim lank voordat daar enige nageslag was. Die Here sal dalk vir jou ’n prentjie van só ’n uitkoms gee waaraan jy kan vashou. Dit sal jou geloof aanvuur en jou help om jou gebede te fokus. Moet niks sê wat hierdie gesig teëspreek nie, want dit is ongeloof wat jou dit laat doen.

Tree in ooreenstemming met jou geloof en jou belydenis op (vgl. Jak 2:17). Wees voorbereid vir die verwesenliking van die antwoord op jou gebed. Kyk byvoorbeeld na Markus 6:39-40 waar Jesus in volle verwagting van sy beantwoorde gebed optree om die vermenigvuldigde brood en visse te laat uitdeel. Wanneer Jesus opdrag gee dat die klip voor Lasarus se graf weggerol word, is dit met die wete dat sy versoek gehoorsaam sal word (vgl. Joh 11:39).

Kragtige gebede

Подняться наверх