Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 5

Wat is gebed?

Оглавление

Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid – Markus 1:35.

Op verskeie plekke in die Bybel lees ons oor gebed. Daar is nie net talle voorbeelde van bidders en hul gebede in die Bybel nie, ons lees ook wat die gevolge van hierdie gebede was. Om die waarheid te sê, die Bybel het soveel te sê oor gebed dat ’n besinning oor wat gebed is, ’n goeie wegspringplek vir enige boek oor gebed is.

Gebed is kommunikasie

Die eenvoudigste definisie van gebed is dat dit ’n gesprek met God is. Gebed is om met God te praat. Gebed is om met die hemelse Vader te gesels. Dit is om met Hom gemeenskap te hê en ons harte teenoor Hom oop te maak. Hierdie kommunikasie kan geskied deur ’n gesprek met woorde wat ons hardop uitspreek, of ons kan dit klankloos in ons gedagtes tot God rig. ’n Gebed kan ook in ’n joernaal neergeskryf word of op ’n rekenaar getik word. Ons kan dit sing of dit saggies prewel. Ons kan sit, staan of lê terwyl ons dit doen, solank ons in gedagte hou dat dit die Here is met wie ons praat. Deur gebed sê ons vir God dat ons in Hom glo, Hom vertrou en Hom liefhet. Deur gebed verklaar ons ons liefde aan God deur woorde van geloof.

Die teendeel is ook waar. As dit wat ons sê, dink of skryf nie aan God gerig is nie, is dit nie gebed nie.

Gebed is ’n magtige wapen

Gebed is die magtigste wapen wat ons getroue en magtige God vir ons gegee het. Laat ons daarom hierdie magtige en kragtige wapen inspan en laat ons bid, glo en ontvang in die Naam van Jesus, ons Here en Redder.

Wat moet ek dan doen?

Bid met die Skrif in jou mond. Bid tot God die Vader in die Naam van Jesus, die Seun van God. Bid sonder ophou. Bid met die ondersteuning van die Heilige Gees. Bid en God sal jou hoor en jou antwoord. Bid en ervaar die genesing en wonders waarvoor jy vra. Bid en jy sal die oorvloed van sy genade ontvang.

Kragtige gebede

Подняться наверх