Читать книгу Kragtige gebede - Arthur Odendaal - Страница 8

Waarom moet ons bid?

Оглавление

Ons bid omdat ons God liefhet

Opregte liefde dring ons om te kommunikeer. Net soos ’n man en vrou begeer om tyd saam deur te bring en te kommunikeer, net so wil die gelowige met God kommunikeer en tyd in gemeenskap met Hom deurbring. Die liefdesverhouding is afhanklik van wedersydse kommunikasie. Gebed is wanneer ons ons harte tot God rig en met woorde teenoor die Here uiting gee aan ons gedagtes.

Ons bid omdat ons afhanklik van Hom is

God is ons Bron. Hy is ons lewe. Ons is geheel en al van Hom afhanklik. Deur gebed verkry ons vertroosting, krag en voorsiening in al ons behoeftes, of dit nou liggaamlike of geestelike behoeftes is. Gebed is net so noodsaaklik vir ons geestelike lewe as wat lug vir ons natuurlike lewe is.

Ons bid om versoekings te weerstaan

In Matteus 26:41 sê Jesus aan sy dissipels: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” ’n Lewe sonder gebed is ’n lewe wat gekenmerk word deur baie versoekings en die gevolge daarvan – sonde. As daar ’n gebrek aan gebed in ’n mens se lewe is, is daardie mens swak en word dit moeilik om die vyand te weerstaan. Dit maak dit moontlik vir ons geestelike vyand, Satan, om die oorhand in ons lewe te kry.

Ons bid omdat dit noodsaaklik is om God by dade van verlossing en redding te betrek

God het die aarde aan Adam en sy nageslag gegee. Ons moet God uitnooi om hier by ons betrokke te wees. Indien ons versuim om dit te doen, sal Satan voortgaan om die sinne van die goddelose mense te verblind, want vir hulle is hy die god van hierdie wêreld (vgl. 2 Kor 4:4). Hy sal voortgaan om hom in te meng in mense se sake en dan sal God se oordeel uiteindelik kom. Wanneer ons God sonder ophou doelgerig uitnooi om betrokke te wees by dade van verlossing en redding, sal baie mense gered word wat andersins verlore sou gaan. Moenie die krag van hierdie gebed onderskat nie!

Ons bid omdat God ons beveel om te bid

Gebed is ’n opdrag van God. “Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word” (Luk 18:1). Paulus skryf in Kolossense aan die gelowiges in daardie stad: “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging” (Kol 4:2). Aan die mense in Tessalonika skryf hy dat hulle gedurig moet bid: “Bid sonder ophou” (1 Tess 5:17). Gebed is noodsaaklik vir alles wat God op die aarde wil doen. Dit is so noodsaaklik dat Hy ons beveel om dit sonder ophou te doen. Ons behoort selfs slaap en eet prys te gee om met groter krag te kan bid (vgl. Luk 6:12; Luk 21:36; Kol 4:2).

Ons bid omdat Jesus, ons rolmodel, gedurig gebid het

Jesus het volmaakte gemeenskap met sy Vader gehad. Hy het geweet wat sy Vader wil hê, wat sy Vader sê en wat sy Vader doen. Hy het snags en in die vroeë oggendure alleen gaan bid (vgl. Mark 1:35). Hy het in tye van krisis en versoeking gebid (vgl. Matt 26:36, 39, 42). As die Seun van God so baie moes bid, hoeveel te meer moet ons nie bid as ons Hom wil volg en soos Hy wil wees nie!

Ons bid omdat God ons hoor en ons gebede beantwoord

Jesus het gesê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matt 7:7). Ons behoeftes is groot. Ons het baie dinge nodig wat buite ons eie bereik lê, maar hulle is nie buite God se bereik nie. As God nie daarvoor sorg nie, sal daar niks gebeur nie! God beantwoord gebed en dit is Hy wat die verskil in ons lewe teweeg bring.

Ons bid dat ons blydskap volkome kan wees

God wil hê jou blydskap moet volkome wees: “Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh 16:24). Dit gaan slegs gebeur wanneer jy antwoorde op jou gebede begin kry. God wil graag hê dat ons blymoedig moet wees. Dit is nie sy wil dat ons hartseer en neerslagtig sal wees nie. Sy antwoord op gebed bring groot vreugde in ons hart. Dit is wat Hy wil hê – harte wat met vreugde gevul is.

Kragtige gebede

Подняться наверх