Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 88

SONDAG 19 MAART 2017 Lees eers Psalm 120:1-7

Оглавление

ONREG

Ek het vrede begeer, maar sodra ek iets gesê het, was hulle op oorlog uit! (120:7).

GESELSVRAAG: Wie is vir ons ’n bedreiging?

“Toe hierdie mense in die nood was, het ons hulle met liefde in ons lande verwelkom. Nou bedank hulle ons deur ons aan te val, te beroof en dood te maak!” kla ’n immigrant uit een van die Afrikalande. Die vreemdelingehaat wat telkens in ons land opvlam, is ’n skande vir ons land. Mense uit baie lande, ook dié wat vir die evangelie gesluit is, kom na Suid-Afrika op soek na ’n beter lewe. Maar in plaas van met die liefde van Christus verwelkom te word, maak hulle kennis met die grootste onreg en geweld.

Hierdie psalm is een van die pelgrimsliedere. Dit is bedoel om te sing wanneer jy op pad is, veral op pad na Jerusalem. Die psalmdigter vertel hier hoe hy in ’n ander land gaan woon het en toe daar sleg behandel is. Daarom is hy eerder op pad na Jerusalem.

Hier op aarde kan ons vervolging en onreg verwag, veral as ons getrou is om die evangelie met ander mense te deel. Miskien wil hierdie psalm ons daaraan herinner dat ons nog op pad is na ons eintlike tuiste – die Nuwe Jerusalem. Daar sal dinge anders wees, want God is daar. Ons skrik dus nie vir dreigemente en onreg nie. Dit is net tydelik.

GEBED: Here, dankie dat U steeds by my is wanneer ek bang en alleen voel.

Lees vanaand in Psalm 121:1-8 waar ons hulp kan gaan soek wanneer ons bang en alleen voel.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх