Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 90

DINSDAG 21 MAART 2017 Lees eers Handelinge 8:26-31

Оглавление

Menseregtedag

LUISTER!

Gaan loop saam met daardie wa (8:29).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons Menseregtedag reg gebruik?

“Ek het die eerste skoot afgetrek tydens die Sharpeville-slagting,” bely ’n oudpolisieman van Springs. Hy vertel van sy vrees daardie dag en dat hy ná al die jare steeds nagmerries kry van ’n horde swart mense wat op hom afstorm. Hy trek sy hemp op en wys waar hy homself in ’n selfdoodpoging geskiet het.

Filippus het die kuns aangeleer om mooi na die Heilige Gees se stem te luister. Miskien het hy gewonder of hy reg gehoor het toe hy hoor hy moet op die middag suid van Jerusalem langs ’n stil pad gaan sit. Dit het beteken dat hy die wonderlike herlewing in Samaria moes verlaat. Kan dit reg wees? Toe kom ’n lang, slap Mercedes-ossewa daar verby met Etiopië se minister van finansies daarop. Filippus hardloop toe hy die volgende opdrag kry, en kom by die wa aan net toe die minister die vers uit Jesaja wat na Jesus verwys, hardop lees. Wat ’n wonderlike aanknopingspunt!

Die vierings vandag sal weer wys dat ons nog nie gereed is om na mekaar te luister nie. Kom ons probeer mekaar regtig verstaan. Maar boweal, kom ons luister na wat die Heilige Gees vandag aan ons almal wil sê. Hy het ’n manier om die mense van Suid-Afrika te verenig. Net Hy kan dit doen.

GEBED: Here, vandag wil ek hoor wat U vir my sê. Help my om na mense te luister wat van my verskil.

Lees vanaand in Handelinge 8:32-40 hoekom die Etiopiese minister met vreugde terugreis na Afrika.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх