Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 93

VRYDAG 24 MAART 2017 Lees eers Handelinge 9:26-31

Оглавление

DIE GESLOTE KERK

Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring (9:27).

GESELSVRAAG: Hoe welkom voel vreemdelinge in ons kerk?

“Ek het eendag die begeerte gehad om ’n erediens in jul gemeente by te woon,” vertel ’n Amerikaanse sendeling aan ’n bekende leraar. “Ek het nie jul gesangboek gehad nie, maar was seker ek kon met iemand anders deel. Die persoon langs my was egter so ongasvry dat ek onwelkom en verstote gevoel het.” Die dominee moes haar verskoning vra dat een van sy lidmate so liefdeloos opgetree het.

Ná Saulus se bekering het hy eers woestyn toe gegaan om in die stilte sy nuwe geloof met sy ou kennis te versoen (vgl. Gal 1:15-17). Toe probeer hy by die gemeente in Jerusalem inskakel. Hy was egter onwelkom. Hy is mos die vervolger van die gelowiges. Hy het mos bygestaan toe Stefanus vermoor is. Gelukkig was daar ’n Barnabas (Bemoediger) wat hom aan die hand geneem en aan die apostels kom voorstel het.

Hoe vreemdeling-vriendelik is jul gemeente? Hoe sou ’n Nigeriër of Sjinees verwelkom word? Wat van ’n Rasta? Of ’n boemelaar? Of ’n prostituut? Of ’n oudgevangene? Die gemeente is mos die liggaam van Christus. Hy wil deur ons uitreik na mense wat verlore gaan. Sy liefde moet deur ons vloei. Dit sal dikwels meebring dat ons buite ons gemaksone sal moet beweeg.

GEBED: Here, dis onverstaanbaar dat U iemand soos ek kan liefhê. Laat u liefde deur my na ander vloei.

Lees vanaand in Handelinge 9:32-35 hoe ’n Goddelike genesing baie mense tot bekering gebring het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх