Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 91

WOENSDAG 22 MAART 2017 Lees eers Handelinge 9:1-9

Оглавление

SOOS ’N BESETENE

Intussen het Saulus soos ’n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig (9:1).

GESELSVRAAG: Wanneer is dit swaar om te erken dat jy verkeerd is?

“Kom ons begin almal op dieselfde bladsy. Neem ’n vel papier, skryf daarop: ‘God is dood’. Dan teken jy dit en gee dit vir my in,” beveel die ateïstiese professor die eerstejaarsklas. Een jong man het geweier. Op die ou end blyk dit dat die professor God haat omdat sy ma aan kanker dood is. Die student kon hom help insien dat jy nie iemand kan haat wat nie bestaan nie.

Saulus het ’n goeie opleiding gehad, as Fariseër én in Grieks. Daar was ’n groot universiteit in sy tuisdorp. Nou het hy onder prof Gamaliël kom studeer. Hy wou naam maak. Daarom bestry hy hierdie nuwe dwaling met groot ywer. Tog klop iets nie. Sy vooropgestelde idees oor die nuwe beweging en die mense wat vervolg word, laat hom weer dink. Stefanus se gesig bly hom by. Is dit ’n goddelose mens? Hy bid dan vir sy vyande? Saulus probeer die stem van sy gewete stilmaak deur nog yweriger te vervolg. Maar God was op sy spoor.

Die mense wat die aktiefste teen God werk, weet goed dat Hy bestaan. Hulle probeer Hom seermaak deur sy kinders seer te maak. God se liefde is egter baie groter as dit. Hy maak van Saulusse Paulusse.

GEBED: Here, ek bid vandag vir elkeen wat u kinders vervolg en seermaak. Maak hulle getuies van u genade.

Lees vanaand in Handelinge 9:10-16 hoe die Here sy kinders roep en na die mees onwaarskynlike mense stuur.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх