Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 92

DONDERDAG 23 MAART 2017 Lees eers Handelinge 9:17-19a

Оглавление

GEBEDSVERHORING

Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur … (9:17).

GESELSVRAAG: Waaroor het jy al getwyfel? En toe?

“Ons het in een van die mees geslote lande gery met ’n vrag Bybels in ons motor. In ’n bergpas staak die enjin skielik en die kar gaan staan. Toe ons uitklim om te kyk wat verkeerd is, staan ’n man wat eenkant onder ’n boom gesit het, op en vra: ‘Is julle die manne met die boeke?’ Hy vertel toe dat hy in ’n droom aangesê is om langs die pad te wag vir mense wat ’n boek aan hom sou gee wat sy lewe sou verander. Toe hy sy Bybel ontvang, het die motor sonder moeite weer gevat en nie weer gelol nie,” vertel ’n koerier.

Ananias het baie getwyfel oor die opdrag wat hy van die Here gekry het. Nogtans het hy gegaan en die gevreesde Saulus met liefde gaan help. Die stukke van die legkaart het mooi in plek geval. Skielik het alles sin gemaak. God was in beheer. Hy sou van Saulus die vervolger, Paulus die apostel maak. Paulus was en is vir miljoene mense vandag nog tot seën omdat een gelowige ’n gevaarlike opdrag gehoorsaam het.

Dit is ’n groot avontuur om Jesus te volg. Jy weet nooit wat vandag vir jou wag nie. Bly nogtans op God se golflengte ingeskakel. Iewers is daar iemand wat jou vandag gaan nodig hê. Wees gewillig om na hom of haar uit te reik.

GEBED: Here, ek is dalk nie ’n Paulus nie, maar U wil my soos vir Ananias gebruik. Help my die geleenthede benut.

Lees vanaand in Handelinge 9:19b-25 hoe radikaal Saulus se lewe verander het nadat hy Jesus ontmoet het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх