Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 89

MAANDAG 20 MAART 2017 Lees eers Handelinge 8:9-17

Оглавление

ONVERWAGTE VRUG

Selfs Simon het gelowig geword … Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het (8:13).

GESELSVRAAG: Wie sal waarskynlik nie tot bekering kom nie?

“Selfs drie toordokters het tot bekering gekom,” skryf ’n sendeling in sy nuusbrief. Hulle was aanvanklik sy groot teenstanders, maar God se genade is so groot dat Hy ook in hul hart gewerk het. Ons moet nooit dink dat iemand te sleg is om gered te word nie.

Simon was blykbaar ’n kulkunstenaar wat die mense van Samaria mislei het. Hy het die mense met allerhande goëltoertjies oortuig dat hy “Die Groot Krag van God is” (vgl. v. 10). Hy het die mense met sy toorkunste verstom (vgl. v. 9). Toe Filippus egter daar aankom en die evangelie verkondig, het baie mense gelowig geword. Selfs Simon, wat ander mense verstom het, was verstom toe hy sien hoe God se krag in en deur Filippus werk (vgl. v. 13). Hy het ook tot geloof gekom en oral saam met Filippus gegaan. Hy het besef dat wat hy sien, nie goëltoertjies was nie, maar die ware Jakob. Dít was veel beter as enigiets wat hy kon voorgee om te doen.

In ons tyd is daar baie misleiers aan die werk. Sommige mislei mense om deur hul liggelowigheid hul geld verkeerd te belê of dom dinge aan te vang. Ander smous toorgoed wat sukses sal verseker, of sweep mense op. Baie word ryk uit dwelmhandel. Tog kan selfs so iemand ook gered word. Moenie hulle oorslaan nie.

GEBED: Here, ek bid vandag vir al die verleiers wat in ons land bedrywig is. Vergewe hulle, en red hulle uit genade.

Lees vanaand in Handelinge 8:18-25 hoe iemand uit onkunde kan dink dat God se gawes gekoop kan word.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх