Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 94

SATERDAG 25 MAART 2017 Lees eers Handelinge 9:36-43

Оглавление

BOKKIE

Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help (9:36).

GESELSVRAAG: Wie ken jy wat altyd ander mense help?

“Wat kry ék daaruit?” is die vraag op die meeste mense se lippe. Ons wil graag ontvang, maar so min moontlik uitgee. Hierdie selfsug heers maklik in elke hart. Daarom is dit wonderlik dat die Heilige Gees ons verander van mense wat ontvang na mense wat gee, soos ons hemelse Vader. Dit is wat die Here Jesus van sy volgelinge verwag (vgl. Hand 20:35).

Lukas se vertelling keer nou terug na Petrus. Tabita se naam in Grieks was Dorkas. Albei name beteken wildsbok in Afrikaans. Sy was ’n gelowige vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Sy het ’n hart vir ander mense gehad en was gedurig besig om veral die armes te help. Sy was ’n doener, nie ’n prater nie. In ’n tyd toe klerewinkels skaars en duur was, het sy eiehandig klere vir die armes gemaak. Min mense wou dit doen, dus was dit vir baie mense ’n ramp toe sy oorlede is. Maar die Here het Petrus gebruik om haar nog ’n kans te gee om te dien.

In baie kerke word die vrouevereniging na hierdie vrou genoem. Sy is vir ons ’n voorbeeld om na te volg. Ons leef nie vir onsself nie. Ons is daar om ’n verskil te maak, veral aan die minderbevoorregtes. Wat is jou talente? In wie se lewe kan jy daarmee ’n verskil maak?

GEBED: Here, dankie vir die gawes wat U aan my gegee het om ander mense mee te help.

Lees vanaand in Handelinge 10:1-8 hoe die Here die evangelie oor kultuurgrense laat spring het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх