Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 87

SATERDAG 18 MAART 2017 Lees eers Handelinge 8:1-4

Оглавление

ELKEEN ’N GETUIE

Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig (8:4).

GESELSVRAAG: Waar is ons gesin se sendingveld? Wat doen ons daar?

“Hoe kon die Here dit toelaat dat hierdie groeiende gemeente so vervolg word?” het jy seker ook gewonder. As jy mooi kyk, het die gemeente van Jerusalem vergeet wat Christus se opdrag was. Hulle het wel in Jerusalem getuig, maar heeltemal vergeet van Judea, Samaria en die uithoeke van die wêreld. Só sou die evangelie nooit almal bereik wat dit moes hoor nie. Die vervolging het nietemin die gewenste uitwerking gehad. Die kerk het nou begin uitbeweeg, en die een gemeente na die ander is gestig.

Let op: Dit is nie die apostels wat die sendelinge geword het nie. Dit was die gewone lidmate van die gemeente. Die vervolging het hulle nie bang gemaak om oor Jesus te gesels nie. Dit het hulle juis die vrymoedigheid gegee om die evangelie te verkondig. Die res van Handelinge sal ons vertel hoe die kerk gegroei het tot selfs in die heidense Europa.

Baie gemeentes kry in ons tyd swaar om te oorleef. Is dit dalk dat ons ook, soos die gelowiges van wie ons gelees het, bloot saamgekoek en mekaar warm gebroei het? Ons opdrag is om oor alle grense heen uit te reik met die goeie nuus van Jesus. As ons nie wil gehoorsaam nie, moet die Here dalk ’n ander plan maak.

GEBED: Here Jesus, hou ons getrou aan ons roeping om die evangelie na alle nasies uit te dra.

Lees vanaand in Handelinge 8:5-8 hoe die evangelie oor volksgrense gespring het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх