Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 78

DONDERDAG 9 MAART 2017 Lees eers Handelinge 5:1-6

Оглавление

HUIGELAARS

Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God (5:4).

GESELSVRAAG: Wanneer probeer jy jou beter voordoen as wat jy is?

“Kyk, as jy op die nuwe dorp kom, moet jy sorg dat jy so gou moontlik vir die kerkraad gekies word sodat jy met die leiers van die dorp ’n verhouding kan bou,” word die bankbestuurder aangesê toe hy die soveelste keer verplaas word. Net so probeer baie jong mans hulle goed voordoen om ’n oulike meisie se liefde te wen. Maar agterna wys hulle eers hul ware kleur.

In Jerusalem was dit ’n statussimbool om jou eiendom te verkoop en die geld vir die apostels te bring sodat die arm gelowiges versorg kan word. Veral as jy niks daarvan vir jouself agterhou nie. Ananias en Saffira het voorgegee dat hulle die volle koopsom kom inbetaal. Hulle het vergeet dat God alles weet. Dit baat nie om leuens te vertel nie. Tog wou God die nuwe gelowiges leer dat Hy nie met huigelary tevrede is nie. Dit skaad die gemeente se getuienis. Dít het Ananias en sy vrou hul lewe gekos. ’n Wit leuentjie het hulle duur te staan gekom.

Diep in ons hart ontdek ons dieselfde gesindheid. Ons wil graag hê mense moet goed van ons dink. Daarom is dit moeilik om eerlik te wees met ons innerlike stryd. Ons moet leer om oop en eerlik te wees. Mense moet ons kan vertrou.

GEBED: Here, vergewe my dat ek so dikwels ook ’n huigelaar is. Help my om oop en eerlik in my handelinge te wees.

Lees vanaand in Handelinge 5:7-11 hoe Saffira dieselfde les moes leer en wat die gevolg vir die gemeente was.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх