Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 76

DINSDAG 7 MAART 2017 Lees eers Handelinge 4:5-12

Оглавление

GEEN ANDER NIE

Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (4:12).

GESELSVRAAG: Hoe verskil Jesus van ander godsdiensleiers?

“Hoe kan julle Christene so vermetel wees om te dink dat net julle die waarheid beet het?” vra ’n aggressiewe student in ’n vergadering. Al die ander godsdienste het tog ook leiers en heilige boeke. Wat maak Jesus so anders? Ja-nee, wat Petrus hier sê, word vandag glad nie as polities korrek beskou nie. Alle godsdienste is mos gelyk. Almal het iets van die waarheid beet, nie waar nie?

Die vraag is egter: Wat is die waarheid? Was (is) Jesus werklik God wat aarde toe gekom het? As dit nie waar is nie, hoef ons mos nie vir ons aan Hom te steur nie. Maar as dit waar is, moet ons regop sit en mooi luister wat die Bybel sê. As enige ander godsdiens ook waar is, was Jesus ’n leuenaar (vgl. Joh 14:6). Dan was al die apostels ook leuenaars. Hoe kan ons ’n klomp leuenaars volg? Tog kan al die godsdienste nie waar wees nie, want hulle weerspreek mekaar. Jesus daag ons dus uit om gewillig te wees om God te gehoorsaam, dan sal ons die waarheid weet (vgl. Joh 7:17).

Ek en jy ervaar dikwels twyfel. Selfs teoloë word nie gespaar nie. Dit is doodnatuurlik. Daarom moet ons elke dag tyd maak vir die Bybel. Die Here wil Hom aan ons bekend stel soos Hy werklik is. Geniet dit.

GEBED: Here Jesus, ek glo dat U die enigste persoon is wat my kan red. Help my om die goeie nuus vandag ook met ander te deel.

Lees vanaand in Handelinge 4:13-22 hoe die apostels se vrymoedigheid hul vyande verstom het. Joune ook?

Uit die Beek 2017

Подняться наверх