Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 73

SATERDAG 4 MAART 2017 Lees eers Handelinge 3:1-10

Оглавление

RONDSPRING IN DIE KERK?

Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het (3:8).

GESELSVRAAG: Hoe moet ’n mens jou in die kerk gedra?

“Kom jy uit ’n gemeente waar mense hul hande in die lug steek terwyl hulle die Here loof? Dankie vir al die hande. Wie kom uit ’n gemeente waar dit nie gedoen word nie? Dankie vir al die hande,” lag die spesiale jeugprediker by ’n saamtrek van duisende jong mense. Daardie aand kon ons sien hoe die jongmense vry voel om nie net hul hande op te steek nie, maar ook rond te spring op die maat van die aanbiddingspan se musiek.

Die verlamde man sou geen probleem hê om saam met hulle die Here te loof nie. Ons lees dat hy, wat nog nooit in sy lewe kon loop nie, loop en spring en God prys. Hy is nog nooit in die tempel toegelaat nie, want hy was gestrem. Nou kon hy met vrymoedigheid die tempel ingaan, nie bewerig met ander se hulp of met krukke nie, maar hy loop en spring. Niemand by die tempel kon twyfel dat God ’n wonderwerk in sy lewe gedoen het nie.

Ons is van kleins af geleer om in die kerk stil te sit en nie te lag nie. Daarom voel baie van ons onseker as daar deesdae dikwels ’n ander atmosfeer heers. Daarbenewens stem baie jong mense met hul voete waar hulle meer tuis voel.

GEBED: Here, vul my hart met u vreugde en help my om nie skaam te wees om my vreugde met ander te deel nie.

Lees vanaand in Handelinge 3:11-16 hoe Petrus die geleentheid gebruik om die mense meer van Jesus te vertel.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх