Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 68

DINSDAG 28 FEBRUARIE 2017 Lees eers Handelinge 1:15-26

Оглавление

DIE BINNEKRING

Daar moet dus nog ’n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word (1:21).

GESELSVRAAG: Waarom moet ’n groot organisasie ’n dagbestuur hê?

“Wie onder ons kan ook getuig dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het?” was die toets vir iemand om ’n apostel te word. Judas Iskariot het hierdie voorreg vir 30 silwerstukke verkoop. Hy het alles verloor. Maar soos daar 12 stamme is, so moet daar 12 apostels wees. Wie kan dit wees? Hulle kies toe vir Mattias.

Dit is interessant dat dit nie gaan oor wie kan getuig dat Jesus aan die kruis gesterf het nie. Baie kon dit doen. Dit moes iemand wees wat getuie was van alles wat gebeur het sedert Jesus gedoop is totdat Hy na die hemel opgevaar het. Hy moet die opgestane Jesus self gesien het, want die geloof in sy opstanding vorm die kern van die evangelie (vgl. Rom 10:9-10). Paulus knoop sy apostelskap ook daaraan dat Hy Jesus ná sy opstanding gesien het (vgl. 1 Kor 9:1). Sover ons weet, is daar nooit weer ’n ander apostel gekies om iemand op te volg wat gesterf het nie.

Hoe kan ons weet watter van die vele strome in die teologie betroubaar is? Baie mense trek deesdae die gesag van die Skrif, die maagdelike geboorte en Christus se opstanding in twyfel. Petrus sou ons hiermee kon help: Wie getuig dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het? Dít is die groot toets.

GEBED: Here Jesus, dankie vir hierdie groep gelowiges wat kon getuig dat U werklik leef.

Lees vanaand in Handelinge 2:1-4 hoe die Heilige Gees die eerste keer op die dissipels uitgestort is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх