Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 77

WOENSDAG 8 MAART 2017 Lees eers Handelinge 4:23-31

Оглавление

VRYMOEDIGHEID

Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (4:31).

GESELSVRAAG: Wat is vir jou swaar om te doen?

“Hoe is dit dat julle twee ekstroverte met mekaar getrou het?” vra ’n tannie in Kanada vir ons een seun op ’n konferensie waar hulle albei sprekers was. Dit het hom baie binnepret besorg, want hy en sy Sjinese vrou is albei introverte. Sedert hy as tegnikus in die sending gekom het, het die Here sy lewe omgekeer sodat hy dit nie meer moeilik vind om in die openbaar te praat nie. Sy vroutjie word dikwels as internasionale spreker genooi.

Die apostels word deur die godsdienstige leiers belet om oor Jesus te praat. Dan roep hulle die gemeente bymekaar om oor dié ernstige bedreiging te bid. Het dit jou ook getref dat die apostels nie, soos ons sou doen, vir beskerming gebid het nie? Kyk mooi: Hulle bid vir vrymoedigheid. Daarna word hulle opnuut deur die Heilige Gees vervul en kon hulle met vrymoedigheid die woord van God verkondig. Dit het nie vir hulle oor hul persoonlike veiligheid gegaan nie, maar oor die uitdra van die evangelie aan almal wat dit nodig gehad het.

Jy hoef dus nie bang te wees as jy voel die Here roep jou om iets te doen nie. Saam met die roeping gee Hy ook die toerusting wat jy sal nodig hê. Wees net gewillig om te gaan.

GEBED: Here, dankie dat U ook vir my werk in u diens het.

Lees vanaand in Handelinge 4:32-37 hoe die gelowiges mekaar versorg het. Wat kan ons by hulle leer?

Uit die Beek 2017

Подняться наверх