Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 86

VRYDAG 17 MAART 2017 Lees eers Handelinge 7:44-53

Оглавление

GOD IS GROTER

God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie (7:48).

GESELSVRAAG: Waar is die huis van die Here?

“Welkom in die huis van die Here,” hoor ons meermale aan die begin van ’n erediens. Maar is dit waar? Sommige kerke en katedrale is gebou om die Here waardig te wees. Tog voel baie mense ontuis daar. Dit is so totaal anders as hul eie huis. Sendelinge leer gou om hul kerkgeboue volgens die plaaslike boustyl te bou sodat mense daar kan tuis voel.

Stefanus het bewys dat die klag dat hy Moses minag, vals is. Nou praat hy verder oor die klag dat hy ten gunste van die afbreek van die tempel sou wees. Geen gebou is permanent nie. Salomo het dit besef en dit in sy gebed by die inwyding van die tempel gesê. Daardie tempel was met goud en beeldhouwerk versier, maar hy het geweet dat God nie daarin sou pas nie (vgl. 1 Kon 8:27). Dit was bloot ’n simbool van God se teenwoordigheid. As die volk God verlaat, sou daar niks van die tempel oorbly nie.

God het nie ’n tempel nodig nie. Elke gelowige is ’n tempel van God (vgl. 1 Kor 3:16). Daarom moet ons ons liggaam aan God toewy. Ons mag dit nie gebruik vir sonde of dit aan iets anders verslaaf maak nie (vgl. 1 Kor 6:19). Ons moet ons liggaam so versier dat dit nie ’n verkeerde boodskap uitstuur nie.

GEBED: Here, wat ’n voorreg dat die drie-enige God in my wil woon. Help my om U vandag in alles te verheerlik.

Lees vanaand in Handelinge 7:54-60 hoe Stefanus se preek in oproer en moord geëindig het. Let op sy slotgebede, soos Jesus s’n.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх