Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 80

SATERDAG 11 MAART 2017 Lees eers Handelinge 5:26-32

Оглавление

GETUIES MET ’N DOEL

En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is (5:32).

GESELSVRAAG: Wat is ’n getuie se werk?

“’n Getuie is iemand wat vertel wat hy of sy gesien of gehoor het,” verduidelik ons onderwyser. Hoorsê-getuienis is nie aanvaarbaar nie. Wat het jy self ervaar? Dit help nie jy leer ’n klomp hoë teologie as dit net teorie bly nie. Jy moet self ervaar hoe die Here jou lewe omkeer en jou gebruik. Verlang jy ook daarna?

Petrus was ’n doodgewone visser. Sy status was maar laag in die oë van die priesterhoofde voor wie hy hier staan. Tog vertel hy met groot vrymoedigheid wat hy gesien en gehoor het. Hy was so oortuigend dat die regters hulleself probeer verdedig het (vgl. v. 28). Petrus verduidelik dat hulle weet dat Jesus leef, want hulle het Hom self gesien en gehoor. Die krag van sy getuienis kom nie uit homself nie, maar deur die Heilige Gees wat deur hom werk.

Die Heilige Gees word nie aan ons gegee om ons status in ander mense se oë te gee nie. Hy kom na ons toe sodat ons Jesus se getuies kan wees (vgl. 1:8). Hy is nie daar vir ons plesier nie. Hy verwag van ons dat ons gehoorsaam sal wees. Hy wil ons stuur en gebruik – elkeen op ’n ander manier. As jy nie gewillig is daarvoor nie, kan die Heilige Gees jou nie gebruik nie. Alles begin dus by gehoorsaamheid – algehele oorgawe. Het jy al ervaring hiervan?

GEBED: O Heilige Gees, dankie dat U ook vir my wil gebruik om van Jesus te getuig. Ek sal doen wat U vir my sê.

Lees vanaand in Handelinge 5:33-42 hoe Gamaliël vir die apostels voorspraak doen en hoe hulle op hul vervolging gereageer het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх