Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 75

MAANDAG 6 MAART 2017 Lees eers Handelinge 3:17-26

Оглавление

DIT IS VIR JOU OOK!

Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het (3:25).

GESELSVRAAG: Hoekom wil die Here ons seën?

“Ek sal jou seën … en jy moet tot ’n seën wees” het die Here vir Abraham gesê. In Genesis 12:2, wat Petrus hier aanhaal, word die seën uitgebrei om ook Abraham se nageslag in te sluit. Ons geestelike groei raak ook ons nageslag. Wonderlik!

Net soos in sy eerste preek trek Petrus getrou sy net in om soveel mense moontlik in die koninkryk in te bring. Die toeskouers moet deelnemers word. Al was hulle verbondskinders, moes hulle by bekering begin (vgl. v. 19). Tog moet hulle besef dat Jesus nie net vir die Jode gekom het nie. Al die nasies moet die boodskap hoor (vgl. v. 25). Daarom moet ons eers by onsself begin. Die Here begin deur die verbondskinders eerste na Hom te roep (vgl. v. 26). Dan wil Hy ons uitstuur met die goeie boodskap, na almal wat nog buite is.

Die woord wat hier met “nakomeling” vertaal word, is letterlik “saad”. Die kan dus na ’n individu (Jesus) verwys, of na ’n groep mense (gelowiges). Alle gelowiges is nakomelinge van Abraham (vgl. Gal 3:29). Op watter maniere is jy en jou familie ’n seën vir al die volke van die aarde?

GEBED: Here, dankie dat U ook ons hele familie wil gebruik om die mense van alle nasies tot seën te wees. Wys ons hoe.

Lees vanaand in Handelinge 4:1-4 hoe Petrus se preek goeie en slegte resultate gelewer het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх