Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 82

MAANDAG 13 MAART 2017 Lees eers Handelinge 6:1-7

Оглавление

SPESIALISASIE

Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie (6:2).

GESELSVRAAG: Wat is die werk van die verskillende ampte in die kerk?

“Dit lyk my die kerkraad dink ek is Superman,” kla ’n leraar van ’n gemeente in Amerika. Hy moet die preek voorberei en lewer, die PowerPoints vir die preek self voorberei, en sommer die liedere s’n ook. Hy moet die koor afrig, want hy is mos musikaal. Hy moet sorg dat die kerkgebou skoongemaak en onderhou word en die kerktuin in stand hou. Hy is hoof van die kategete en moet sorg dat alle klasse leiers en hulpmiddels het. Boonop moet hy alles bak om daarvoor te betaal.

Die apostels het gou die les geleer wat Moses ook moes leer. Een mens kan nie al die werk doen nie. Al die gemeentewerk moet onder die lidmate verdeel word. Die leraar is net daar om hulle toe te rus om die werk te doen (vgl. Ef 4:11-12). Hulle laat die gemeente dus geskikte mense kies om vir die behoeftiges te sorg. Nie as jong, junior ouderlinge nie, maar as wyse, Geesvervulde werkkragte. Net die beste is goed genoeg vir hierdie werk.

“Ek wil hier by julle inskakel,” sê ’n nuwe intrekker, “maar moet tog nie verwag dat ek aan enige aksie gaan deelneem nie.” “O, jy is dan by die verkeerde kerk. Gaan so drie blokke verder.” Daar staan toe ’n vervalle en verlate kerkgebou. Die kerk was dood.

GEBED: Here, wys my hoe ek ons kerkleiers kan bystaan.

Lees vanaand in Handelinge 6:8-15 hoe die Joodse leiers nie teen Stefanus kon bly staan nie, en wat hulle toe gedoen het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх