Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 66

SONDAG 26 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:129-136

Оглавление

U WOORD GEE LIG

Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is (119:130).

GESELSVRAAG: Wanneer het ’n mens lig nodig?

“Wat het die mense in Suid-Afrika voor kerse gebruik om lig te maak? Elektrisiteit!” was een van die grappies wat die ronde doen terwyl Eskom die een dorp na die ander in duister dompel. Dan ontdek ons opnuut hoe afhanklik ons van elektrisiteit geword het. Daarsonder kan ons omtrent geen werk doen nie. Hoe het ons voorouers dit reggekry om sulke wonderlike handwerk by kerslig te doen? Kon hulle dalk beter in die donker sien?

Ons het elke dag ook ’n ander soort lig nodig, want ons moet daagliks keuses maak en besluite neem. Wat is die regte ding om te doen? Dit is waar die Bybel ons wil help. Al die verhale wat hierin opgeteken is, wil ons leer hoe om reg te kies. Hoe kan ons ons kinders toerus vir hierdie gevaarlike wêreld? Dalk is die Bybel net wat hulle hul hele lewe lank gaan nodig kry. Ons moet die belangrike lesse van God se Woord elke dag aan hulle leer. Op skool en universiteit kry hulle meermale met verkeerde invloede te doen. Die groepsdruk is erg. Die Bybel wys ons ’n ander manier van leef.

Vandag sal gelowiges oor die hele wêreld om God se Woord bymekaarkom. Ons almal sal God se leiding soek oor hoe om elke dag se uitdagings en krisisse te hanteer. Moenie dit misloop nie.

GEBED: Dankie dat U ons nie in die duister gelaat het nie, Here. Dankie vir u kosbare Woord wat ons elke dag lei.

Lees vanaand in Psalm 119:137-144 hoe die Bybel ons wil leer wat reg en regverdig is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх