Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 79

VRYDAG 10 MAART 2017 Lees eers Handelinge 5:12-16

Оглавление

GROEIENDE GEMEENTE

Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg (5:14).

GESELSVRAAG: Wat sal jul gemeente vinnig laat groei?

“Hulle doen iets reg,” het ek opgemerk nadat ek die gemeente in Chicago besoek het waar ons kinders ingeskakel is. Dié gemeente het 1 500 lidmate, maar die gemiddelde kerkbywoning op ’n Sondag is 3 000 by die drie dienste wat agtereenvolgens gehou word. Honderde volwassenes is by die Sondagskool ingeskakel, afgesien van die klasse vir die kinders. Hulle het nege leraars, maar ondersteun 910 sendelinge in 46 lande. Sommige kerkgangers ry ’n uur lank deur Chicago om by dié gemeente te kom aanbid.

Dit het my laat dink aan die eerste gemeente in Jerusalem. Dit was ’n groeiende gemeente, hoewel ongelowiges bang was om aan te sluit (vgl. v. 13). Daar het gereeld tekens en wonders gebeur wat net aan God se werk toegeskryf kan word (vgl. v. 12, 16).

Hoekom gaan dit nie naastenby so goed met die meeste van ons gemeentes nie? “Wat gebeur in jul gemeente wat net aan God se bonatuurlike werk toegeskryf kan word?” vra ’n besoekende spreker by ’n byeenkoms van predikante. Baie gemeentes is besig om leeg te loop en slegs ’n klein persentasie van die lidmate kom nog kerk toe. Die gemeente groei nie meer nie. Dit maak geen verskil deur die uitdra van die evangelie nie. Is dit dalk soos jul gemeente lyk?

GEBED: Here, hoe verlang ek dat U weer kragtig deur u kerk sal werk. Verander ons, Here, sodat ons ’n verskil kan maak.

Lees vanaand in Handelinge 5:17-25 hoe die Here die apostels uit die tronk bevry en hulle met hul werk voortgegaan het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх