Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 67

MAANDAG 27 FEBRUARIE 2017 Lees eers Handelinge 1:9-11

Оглавление

JESUS KOM WEER

Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (1:11).

GESELSVRAAG: Vir wie wil jy graag eendag (weer) ontmoet?

“Ek wonder hoe die nuwe hemel en die nuwe aarde gaan werk. Alles sal so anders wees. Sal ons ook, soos Jesus, nie meer aan swaartekrag onderworpe wees nie?” noem iemand in ’n Bybelstudiegroep. Die Bybel sê ons sal ’n liggaam soos Christus ontvang (vgl. Fil 3:21). Dit sal waarskynlik iets wees ver bo wat ons ons kan indink.

Die vreemdelinge in wit klere help die dissipels om terug te kom aarde toe. Hulle het seker oopmond staan en kyk wat bo hul kop aan die gebeur was. Hulle het besef dat Jesus Iemand heel anders as ’n gewone mens is. ’n Kommentator sê die engele het hulle daaraan herinner om op hul knieë te val en Hom te aanbid, want Hy is God. Dit is onvanpas om te staan.

Jesus het weggegaan sodat Hy vir altyd by elkeen van sy volgelinge kan wees. Ons hoef nie na Jerusalem te reis om met Hom te praat nie. Jy kan dit sommer vandag doen, net daar waar jy is. Hy is nou daar by jou. Hy is alomteenwoordig. Maar eendag sal Hy weer fisiek en sigbaar na die aarde terugkeer. Die Bybel vertel dat Hy weer op die wolke sal terugkom. Elkeen van ons sal dit sien. Dié wat reeds gesterf het, sal opstaan. Die lewendes sal ook verander word om Hom terug te verwelkom (vgl. 1 Tess 4:16-17).

GEBED: Here Jesus, dankie dat ons kan weet dat U op pad terug is.

Lees vanaand Handelinge 1:12-14 en let op wie almal onder die bidders in die bovertrek is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх