Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 83

DINSDAG 14 MAART 2017 Lees eers Handelinge 7:1-8

Оглавление

JOU LAASTE PREEK

Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys (7:3).

GESELSVRAAG: Wat sal jy sê as jy weet dit is die laaste keer?

“Ek preek soos ’n sterwende man vir sterwende mans en vroue, asof ek nooit weer die kans sal kry nie,” skryf ds Richard Baxter in sy boek The Reformed Pastor. Geen wonder dat hy so ’n vrugbare bediening in die 17de eeu gehad het nie. Die boodskap wat aan ons toevertrou is, is van ewigheidswaarde. Gewildheid en gerief tel niks as jou gemeentelede vir ewig verlore gaan nie.

Stefanus het geweet dat dit sy laaste preek was. Vir die hof het dit nie oor reg of verkeerd gegaan nie. Hulle het reeds vals getuies omgekoop sodat hulle hom kon doodmaak. Daarom begin hy by Abraham en Moses en werk deur die Ou Testament. Die Jode moes besef dat Jesus se boodskap bloot die voortsetting van die res van die Bybel is. Dalk was dit hierdie preek wat Saulus van Tarsus laat twyfel het sodat hy Paulus die apostel geword het.

Die dag sal vir ons almal kom dat ons nooit weer met ons geliefdes sal kan praat nie. Miskien kom dit skielik, in ’n ongeluk of ’n moord. Het jy al vir jou geliefdes vertel wat hulle moet hoor? Gebruik elke dag jou geleenthede. Dit kan dalk die laaste keer wees. Maak seker dat elkeen werklik aan die Here Jesus behoort. Ook die werknemers wat die Here aan jou toevertrou het.

GEBED: Here, baie dankie dat ek vandag nog die kans het om ’n laaste boodskap te bring. Gee my die geleentheid en die wysheid.

Lees vanaand in Handelinge 7:9-16 hoe Josef voorberei is vir die groot werk wat hy in Egipte moes doen.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх