Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 74

SONDAG 5 MAART 2017 Lees eers Psalm 119:145-152

Оглавление

GEHOORSAAM DIE WOORD

Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam (119:146).

GESELSVRAAG: Wat wil die Here dalk vandag in jou lewe verander?

“Het jy dalk vanoggend gebid dat die Here tog niks in jou lewe moet verander nie? Of is jy gewillig om te verander?” daag ek ’n gemeente uit wat my as prediker genooi het. Die Here gee tog sy woord aan ons omdat ons nie volmaak is nie. Ons almal moet verander. Die Here wil ons in die erediens toerus vir die week wat voorlê. Dit beteken Hy wil ons verander sodat ons gereed kan wees vir die uitdagings wat wag.

Die psalmdigter was bewus daarvan dat God verandering by ons verwag. Daarom stel hy hom daarop in om God se Woord te ontvang. Hy begin reeds voor sonop en maak hom gereed (vgl. v. 147). Hy lê in die nag wakker en dink na oor die Woord (vgl. v. 148). Hy weet dat God ons sekerheid wil gee oor wat reg en wat verkeerd is (vgl. v. 152).

Die meeste van ons sal vandag geleentheid kry om na die Woord van die Here te gaan luister. Ons moet dus gewillig wees om nie net ’n preek aan te hoor nie, maar om daardeur radikaal verander te word. Kom ons bid dus vir ons predikers wat vandag voor ’n gemeente sal staan, dat hulle toegerus en bekragtig sal word en dat die Woord van die Here baie mense sal verander.

GEBED: Here, ek buig voor U om vandag deur U verander te word. Help my om u opdrag te hoor.

Lees vanaand in Psalm 119:153-160 hoe die Woord van die Here die geheim van ware lewe is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх