Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 81

SONDAG 12 MAART 2017 Lees eers Psalm 119:161-168

Оглавление

SEKERHEID

Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie (119:165).

GESELSVRAAG: Hoe kan ’n mens seker wees dat jy gered is?

“Hoe kan jy sê ’n mens kan seker weet dat jy gered is?” vra ’n vrou vir my vrou Wena. ’n Besoekende leraar het die gemeente gevra dat elkeen wat geloofsekerheid het, moet opstaan. Verbasend min lidmate het opgestaan. Wena kon toe vir haar verduidelik dat ons sekerheid van die Here se beloftes afhanklik is. Ons word uit genade gered deur die geloof wat op God se beloftes gebou is.

Vandag se Skriflesing herinner ons daaraan dat die Woord van die Here ons in tye van gevaar dra. Dit gee ons hoop vir elke dag. Dit maak nie saak wat mense sê of selfs dreig nie. Ons hoop is op die Here en sy Woord gevestig. Merk watter van die verse wat ons saamgelees het, vir jou vandag van besonderse betekenis is.

“Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo,” skryf Johannes (1 Joh 5:13). Die Here wil ons graag sekerheid gee, want ons sekerheid hang nie van ons af nie, maar van Hom. Hy red ons uit genade, deur geloof. Geloof is nie iets wat ons self kan opwek nie. Dit is ’n gawe van God (vgl. Ef 2:8-9). Maar dit is gegrond op God se Woord. Sonder die Bybel kan jy nie glo nie. As jy dink jou geloof is swak, moet jy weet daar is fout met jou Bybelstudie.

GEBED: Dankie dat U my die sekerheid wil gee

dat ek aan U behoort, Here.

Lees vanaand in Psalm 119:169-176 hoe die Woord van die Here ons hele lewe verander.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх