Читать книгу Vyf-en-veertig skemeraandsange - Breyten Breytenbach - Страница 10

5. die hengel-komposisie-kompetisie

Оглавление

digters sit dig bymekaar in die nag

(gedig aan gedig gebokkom)

sodat die gesigte onsigbaar is

en lyne word laat sak in die donker

(soos uit die hand verloopte glimlagte)

elk met ’n eie geheime aas aan die hoek:

hier die soek-soek van ’n wurm daar

’n brokkie brood lankal op die water gewerp

of ’n vulsel maaiers gebry in deeg

(“gras is ons lewens en vertering knaag sag”)

’n bokblêrtjie, ’n verpulpte hart, ’n gulp, fetusblommetjies,

dooie vlieë, pruimsels, engelpluim, die dons

van drome, selfs die verfrommelde vuis

van ’n jeugmanifes of die swart skelet

van self of van ander se geleende vere of vers

tot aan die graat kaal gepeusel

(“die mossie is mos morsdood verlief op die aandgaal”)

en ’n reël of twee uit die engelaar

se handlyding geknoop

om soos verleidelike verlange te lyk

af en toe is daar ’n geknibbel in die diepte

word die waters geroer

span ’n snaar tot breekpunt maar

die gebroke ritme kom dryf

’n aartjie speeksel van die drenkeling

in die donker geletterde boek

(“genoeg niks om jou aan op te hang

sit nie in iedereen se broek nie”)

en meestal is die vangs ’n plastieksak

vol water of ’n skoen

sonder soen of sool

triomfantlik uit die niet gepluk

en voorgehou as synde die oorblyfsel

van die muse se onderbewuste dans

maar soms gebeur dit tog

dat ’n glinsterende lewendige vis

bloederig glad soos ’n tong vol insigte

uit die nikswees breek

om stom vrae uit die leegte gebaar

op die kaai te kom lê en gaap

daardie blink ontdekkersdrol ingekatrol

uit die onvoorspelbaarheid van waak

en die vrugwaters van die oopvouspieël

sal gespeld word aan die reisende

grafsteen van been

die wenner is die een eenparig

uitgeroep tot maagd:

en waar anders kom die maan

se vishoring vandaan?

Vyf-en-veertig skemeraandsange

Подняться наверх