Читать книгу Vyf-en-veertig skemeraandsange - Breyten Breytenbach - Страница 8

3. my vriende

Оглавление

my vriende glo nie meer in vrede nie /

my vriende woon in dakwoonstelle en agterplase /

hulle het boekrakke en geraamde foto’s van rawe teen die mure

en dikwels muwwe verse in die laaie, dikwels

hang hulle vlae of baniere oor balkonne

by die vensters uit

maar hulle is moeg van utopiebedremmeling /

my vriende woon in Barcelona en Bamako

en Bombaai en Boedapest en Bloemfontein en Beijing

en Brackenfell

en in die aand luister hulle na ballades

van ontnugtering /

my vriende is toneelspelers en reisigers en hulle het sambrele

en toe hulle jonk was het hulle met passie

bemin en nou vee hulle hul monde

af wanneer hulle in ’n tempel die soom

van ’n heilige relikwie moet soen /

my vriende dra skoene en hulle dink

baie na oor die verskuilde bewegingsbetekenis

van berge / in die laatsomer

dryf hulle op die rug in die see en kyk

na die wolke wat verbykom / my vriende

drink koffie /

my vriende het verskrompelde poese en verrinneweerde piele

(dit maak hulle bedees by die liefdesdaad) /

hulle hou daarvan om goudvissies te voer

en te sien hoe die bekkies gulsig deur die oppervlak breek

om vryheid te sluk

en die maan uit te spoeg /

my vriende het rugpyn /

my vriende lees die verhale van Julio Cortázar /

my vriende lê onder grys stene in begraafplase in Beira

en Bandoeng en Bologna en Blantyre

en onder sand en klippers in Bandiagara / baie

van my vriende is lankal dood

en sommige se as is in roostuine

uitgestrooi en ander klop teen die kiste

se deksels en hulle hou nie van molle nie /

my vriende het kontak

met hulle kinders verloor /

my vriende word kwaad /

my vriende het spesiale en moeilike verhoudings

met die naghemel

veral wanneer die kleur daarvan karmosyn is /

my vriende van Brisbane en van Belgrado

en van Bagamojo en Bahia en Bitterfontein

skryf soms hulle gedagtes neer

en maak lyste van hulle vriende

wat ook weet net soos hulle nou weet

die wêreld is nie daar om verander te word nie /

Vyf-en-veertig skemeraandsange

Подняться наверх