Читать книгу Vyf-en-veertig skemeraandsange - Breyten Breytenbach - Страница 11

Оглавление

6. hierdie brief as gedig vol vere

onder jou deur

broer B: ek weet jy skop teen die deur van die Anderkamer

dat ek oop moet kom maak vir jou

gesoebat na brood en wyn

jy kla van pyn op die krop

en ’n wind ou stemme wat so suis in jou kop –

dis die hart se onverteerbaarheid, my broer

wat so klop teen die deur

om binnegelaat te word

en die herinneringe van dié aan wie jy leed berokken het

(uit ledigheid op die duiwel se oorkussing soms)

en nou wil jy maak asof jy alles vergeet het?

weet jy dan nie dit maak my seerder as vir jou?

ek vertrou jou nie

onthou hoe heilig jy was destyds

hande gevou voor die bors

en gekruisbeen op die meditasiekussing

toe jy jou neerlê van self as bhikku moes betuig

(ek het die foto)

en die meester die simboliese monnikekleed

om jou skouers vou

met die koan in sy bloedswart kalligrafie op die rakusu

die lappiesdoek waarmee die ontlasting afgevee is:

ek onderneem om nooit weer kwaad te word nie

en nou gaan jy te kere soos ’n gegriefde kind

skop teen die deur

en poep in die sand

steur jou aan geen begrip van maniere

is opgeblase met hoogdrawende morele koliek

byt selfs die hand wat jou wil paai –

dink jy ek is mal genoeg

om daardie deur oop te maak

vir wyn en vir brood?

wie gee jou die reg

om links en regs te beledig en beswadder

om selfs hulle wat lief vir my is te wond?

ek ken die verweer (jou kont)

dat jy die sorgvuldig gevoude mantra

op die bus vergeet het, dat dit gesteel is

dat jy die lewensdraadverbintenis nie meer

kan herroep nie –

maar wat van die vermaning

so swart soos ou bloed uit die meester se vinger

as aanwysing?

jy dink jy kan jou alles aanmatig

omdat jy die lappiesjas van die digter dra

(op watter bus het jy dit gesteel, my bra)?

maar jou mooiwoordjies en kluitjiesgebak

val op dooie ore

jou oorwegings of skynbewegings van die gemoed

word nie meer gehoor en in aanmerking geneem

ek wéét hoe jy jou in daardie Anderkamer

in die anus bevrug

op soek na geselskap, op soek na ’n gehoor

sê jy

(die wyn en brood is vir die fees)

maar ook hulle sal hul van jou afkeer

of in ’n narrespel die gek met jou skeer

jy sê verniet jou potjiespoësie vir my op

(selfs wanneer dit teem oor die gewonde hart

wat teen ’n donker vonnis skop)

dit help nie jy vloek of fluit vir my

jou geflikflooi se vat is vir goed verby

jy wil nog jou stem laat hoor

ten spyte van die skande

argumenteer dat dit jou lot was

om my aan die lewe

en uit die kloue van verdubbeling te hou?

o ydel sot

(ek het die foto):

skryf jy dan vir my jou liefdesduif

as lewensbekentenis met ’n hand vol vere

op hierdie papier

wat ek onder die deur, hiér

na jou toe skuif

6.1

(“la république est une grande diversité avec des règles communes.”)

Vanwaar, vra jy my, die ewige duiwelse verdubbeling?

*Om die self vas te pen as vyand uit die weg geruim

al sy dit deur kansellering van die loskoppelende verkragtingsing

*Om aanspreeklikheid te ontduik

*Om verstarring op die slypsteen te vermy

*Om die gesprek risomaties aan die gang te hou

*Op soek na die legitieme meerderheid wat kan regeer, wette kan maak

*Om die spieël mis te kyk

en solangs solank ’n bekende gesig in die dood raak te loop: en te

Om, Om, Om, Om, Om, Om, Om, Om, Om

6.2

oplaas kan jy beweer

jy het die vervuiling van tweelinge

as dubbelsinnige dubbelgangers en spieëlmakkers oorleef:

Panus, Kamiljoen, Woordfoël, Buiteblaf,

Lasarus, Bian Tong, die lawwe Grafblom Blom-vent

en die ander Afrika Fuifgat Bibberbek alias

Ka’afir, Elefteria, selfs Swartgesig

en Beweborsie breytenbreytenbach

Stotterstok tot en met die tok-tok eenbeendanser ’k-sê

ammel ou ystergeraamtes in die sloot

die enigste één wat nog genoeg asem het

om lag-lag by te hou

en die ego te streel

asof sy ’n liefdeshonger long is

is my eie leeftefie:

is my spanleier en gids:

is my Jantjie Dood

Vyf-en-veertig skemeraandsange

Подняться наверх