Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 10

Maraai

Оглавление

Als is swart waar ek vir Groentjie by die hekkie staat en inwag. Die roet sit soos vlieë op onse stoele, onse kooigoed, onse eetgoed. Als is toe onner die swart stof. Arme klein Fraaifina is nou ’n heel anner ras.

“Ma?” Dis Jan Rats daai. “Hier’s lekke soet koffie.”

Ek kan nie praat nie. Ek’s onner trane.

“Ons kan tog niks maak nie, Ma. Die polieste het beloof om te soek. Zack en die boere ook.”

Hoe moet dít my troos? Dis mos nie die soort manne in wie se hanne jy jou hart wil sit nie! Zack, wat wet buig, ’n regte ou skelm in die derm. Braam, wat gaaf is as dit by kleingeite kom, maar val jy die slag die hel in, draai hy maklik rug. Tog te besig om met Vrekbek te woelfletter.

“Groentjie kén die berg, Ma. Hy speel elke mirrag daar. Almiskien kruip hy sommer vannag in ’n ou erdvarkgat of so. Staat tog nader, ’seblief, Ma.”

Jan Rats is moeg en seer, ek hóór. Vannag het ons mekaar norig. Veral vannag met die skok wat rou rondlê op die jaart.

Koffie in die hand sit ek by Rats. In onse huis lê Jan Pampoen sy gô en uitsnork. Hy kan tog so rumoerig raak, wat sal hy maak as hy hoor sy klein Groentjie is weg? Wil nie weet nie. Rats gooi nog mieliestronke op die vuur. Elke keer as die vlamme my kant toe lek, wonner ek hoe dit is om weg te skroei en as te word.

“Ma?”

“Rats?”

“Daar’s ’n ding waaroor ek al jarre wonner, maar Pa was altoos in die omte. Nou’s ek en Ma vannag alleen, nou wil ek weet, Ma.”

“Vra maar, my kjend.”

“Die dag van Groentjie se geboorte … Wat het daar gebeur, Ma?”

Hoe kan Rats dit nou vra? Hy en Pampoen het tog saam grootgeraak, en koorsag vir alleranne goete. Toe die lus later agter Pampoen aansleep, het hy pad gevat en die ding loop doen. Hoe en waar en met wie, dié hou ek vir myselwers, maar een more kry ons die kleinding hier voor die deur. Ons het sommer geweet dis Pampoen se job, want die kjend had dieselle skeeloog as hy.

“Jan Pampoen,” het Mampoer geskel, “wat het jy gemaak?”

Pampoen het aangedrentel gekom. “Ek maak g’n niks. Ek stap.”

“Moenie vir jou onnosel hou nie. Het jy gepeuter?”

“Ek’s nie onnooslik nie. Myself is baie slim.”

“Het jy getokkel?”

“Lamtietie damtietie. Ek vry net bietjie-bietjie.”

Mampoer het die swerkater in geraak. “Dit lieg jy, jou windbek! Vir jou neuk ek lat jou tong uithang.”

Die hen het duskant toe gevlie toe die osriem klap. Pampoen het spore in die lug getrap. Sy bakkies was blink gehuil. “ ’Seblief toggie, Pa.”

“So het jou pa hom gemoker oor die kjend, tot Pampoen lat spat het om die draai. Wat ken jy nog van daaise dag?”

Rats vat ’n groot sluk koffie. “Ek’t die mirrag van die skool af gekom, toe kry ek vir Pampoen waar hy agter die boom tjank. Die osriem het vleishale oor sy been gegooi. Hy’t sy broek afgetrek om sy agterent vir my te wys en dit was … lelik, Ma. Toe hoor ek ’n kleintjie huil en ek vra: ‘Wie’s dit?’ Hy’t gebrom: ‘Wat dink jy? Dis my gatvelle wat daar tjank.’”

“Sowaar, is dit wat hy geseg het? Jy weet, Pampoen was die een wat daaise dag vuur gemaak het lat Ma vir Groentjie in lou water kon was. Hy’t self vir Groentjie die hanstiet gegee.”

Ek skop die kole toe met grond. Groentjie, Groentjie, waar’s jy? My kalfie wat nie aan sy eie ma se vrot mastitistiet mog gesuig het nie. My weggooilam, Groentjie. My laatlamkjend.

Wildvreemd

Подняться наверх