Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 5

Die Byeboer

Оглавление

Dit is die soveelste oggend dat ek wakker skrik uit die droom van water, altyd die droom van woorde soos water. Ek sit regop en skuif die slaapsak van my bene af. Die opblaasmatras wankel en wip wanneer ek van die plankvloer af opstaan. Nou eers vinnig die lakens regtrek en die kreukels uit die kussingsloop skud. In net my wit katoenbroekie – in die lente is dit hoe ek slaap – raak ek bewus van die koel rivierlug in die vertrek en die moerasreuk van riete. Terwyl ek my gesig in die skottel afspoel, kom die waterdroom weer by my op en ek voel die hoendervel oor my boarms kruip. Altyd die stil, donker waters. Stilte is ’n oergeluid. Dit was daar voordat die klank van mens of dier in die Ruig geëggo het. Binne-in stilte slaap musiek en die fluistering van wind, die stemme van diere en die geluid van die mens. Ek staan lank met die handdoek teen my mond gedruk. Is die droom ’n besoeker wat beloof dat daar ’n einde aan dié stilte sal kom?

Met my rooi kopdoek en geel romp aan begin ek die stapsak pak. Eers die gewone: die ligte vangkas, leë koffieblik vol gate, vuurhoutjies, twee Granny Smith-appels, ’n gekookte eier en ’n handvol Provitas in die kosblik. Toegerits in die kantsak is die metaalbottel met die skroefdop wat my drinkwater vir die dag sal koel hou. Heel bo is die brief wat ek gisteraand geskryf het, verseël in ’n bruin A5-koevert.

Dis asof iets amper wil gebeur – die son ’n rooi vlek op die water. Versigtig en oplettender as gewoonlik herken ek die nagspore van diere waar ek rivierlangs stap. Erdvark. Muskeljaatkat. Slangsleepsel. Nou verby die diep kuil waar die riffelkrokodil soms skuil – is dit net ’n blaar wat daar op die spieëlvlak dryf? Ek raak so haastig, ek trap byna in die nes in die droë seekoeispoor. Asof uit die niet pyl die bontkiewiet op my af. Skrikroep. Toe ek nie dadelik padgee nie, strek sy haar vlerke oor haar eiers en skel my uit. Tienk-tienk-tienk. Die klank van yster teen yster. My hart klop in my keel. Só moet ek vandag wees. Met die ysere wil van die kiewiet moet ek voor die polisiekaptein gaan staan. Ek sal die brief in sy hand druk. Hy sal flou glimlag en met ’n beleefde knik die koevert uit my hand neem, dit oopskeur en lees. Ek sien reeds sy lippe beweeg: “Verlede week, aan die oostelike grens van die Ruig, in die boomveld naby die drinkgat, is ’n draaijakkals se agterbeen vergruis. Die slagyster se kake het toegeklap. Die vos het sy poot afgekou, losgeskeur in ’n poging om te ontsnap. ’n Draaijakkals is gebore om agter die geluid van larwes aan te grawe en in die rondte te tol ná die reën.”

Wanneer hy opkyk, sy mond agter ’n hangsnor versteek, sal ek die teken gee. Hy sal besef dat ek hier is om soos die bontkiewiet te baklei, vlerke gesprei oor die Ruig. Hy sal sonder ’n woord versit en verder lees: “Ek het die bewysstukke gehou. Ek kan presies wys waar die strikke en vangwippe gestel word, maar teen die donderslag van die geweer is my hande afgekap. Agt koedoe-ooie in die eerste twee weke van September, en dit in die dratyd. Ook die sterkstes onder die bokke, die alfaramme, word afgemaai, én waterbokke, klipspringers, selfs ’n grysbokkie. In die onderbos het ’n duikerlam speen gesoek aan sy dooie ma. Die bloed was al swart. Sy wankelrige bene het verraai hoe klein hy is.”

Dan sal die kaptein die vraag vra wat ek verwag. Waarom langer aanbly in die Ruig? Waarom nie rug draai op die driepootwyfie, die pienk fetus, die verrottende karkas nie? Dit is buitendien geen plek vir ’n vrou nie. Veral nie ’n alleenvrou nie. Een klein aanpassing, ’n skuif, en jou lewe kan handomkeer verander.

Romp gelig tot bo my knieë loop ek deur die vlak kant van die rivier. Anderkant kriewel die vingers van blare oor my gesig, hang sluier op sluier spinnekopwebbe waarin vere vassit. Nou deur die oewerbos met sy doringbome vol voëlneste soos donker oë. Ek haal die sak van my rug af, ontdop die gekookte eier en eet dit platgedruk tussen twee Provitas. Daar is ’n ritseling agter my en skielik ’n bloedrooi waarskuwing op die tak bo my kop: ’n rooiborslaksman. Haar ogies stip, die bewegings berekend. Ek kou stadig, probeer om nie ’n geluid te maak nie. Ek weet waarna sy soek. Sy is besig om die rivierloop te fynkam vir prooi. Nadat sy die wurm, kewer, perdeby of vlinder gevang het, sal sy hom in ’n do-ring of draad druk om soos biltong te droog. Die tweedood, noem die mense haar, die vervloekte slagter onder die voëls.

Die son skuif hoër en ek stap aan, appel in die kies. Met ’n kar, skat ek, duur dit so twintig minute om van die Ruig tot op die dorp te kom; per voet het ek byna drie uur nodig as ek padlangs loop, en daarom kies ek vandag die kortpad oor die westelike berggedeelte van Braam Botha se plaas. Hoopspruit. Van hier bo gesien, is die sytak van die Limpoporivier ’n slang met sy kop in die Ruig en ’n lyf wat deur beesplase en klein wildreservate kronkel en krul tot waar die stert in die dorp wegraak. Water, dit is wat aan dié streek die naam Waterberg gee. Oral is die tekens. Die boord en tuin om Braam se huis is mals – ’n pers bougainvillea wurg die mopanie, ’n oranje bougainvillea eggo die klipkleur van die huis. Die selonsroos is gifpienk en die frangipani vlamwit. In die lusernland rits bosluisvoëls rond op die rûe van sy afrikanerstoet.

Ek bondel die romp tussen my bene in en klim oor die klippe, verby die groot, geplooide kremetart met die blare soos oopgespreide kloue. Aan die onderkant van die berg volg ek die stroom tot waar dit tussen akasia agter die rugbyvelde van Laerskool Rietfontein wegraak. Nou af in die rivierbedding, deur die oop stuk veld tussen die skool en die dorp. In die oggendlig lyk die sekelgras soos fyn visgeraamtes. Ek is tot by my heupe toe in dié gras en teen die tyd dat ek die dorp binnestap, is my hele onderlyf nat van die dou. In die weerkaatsing van die apteek se ruit sien ek myself: verwaaide hare, seningrige arms, vuil voete. My bloes dun soos ’n winterblaar. Geen wonder ek word vir ’n nomade aangesien nie, ek sou seker van enige plek kon kom: ’n deli op Dullstroom of boekwinkel in Melville, ’n strand waar wêreldlopers se paaie kruis, Maputo se grensgemeenskap, ’n straatmark in Lissabon.

Alles is reeds in rep en roer vir die boeremark. Dis onmoontlik om die gedrang te vermy en ek vorder stadiger as wat ek wil tussen die stalletjies deur. Dié verbeeldinglose park oorkant die munisipale kantore, waar werklose mans weeksoggende op die gras rondlê en bediendes smiddae die verveelde kleuters van werkende ouers skoppelmaai, word elke laaste Vrydag van die maand ’n fees van kaneelpannekoeke en anysbeskuit, vetkoek gevul met maalvleis en blatjang, vars kruie in kleipotjies geplant, klapperys, fudge en die groente van die streek. Grysaards sit soos duiwe op die houtbanke in die son. Die warmte van ’n hand op ’n been, vingerpunte wat ligweg aan ’n elmboog raak, die vinnige soengroet op die mond, soos dit die plattelandse manier hier is. Iemand vryf ’n handgeverfde tafeldoek tussen die vingers, ingedagte.

Vandag lyk dit asof die hele dorp hier is – van die blokman met die sooibrandpille in sy hempsak tot die vrou wat herwonne papier verkwansel. Baksters met bakbeentjies, hande op die lae rug; ’n boerseun wat mense langs die rivier laat perdry; Mosambiekers wat met batikwerk oor die voorarm in gebroke Engels onderhandel terwyl ’n kleintoontjie by ’n tekkie en ’n tweehonderdrandnoot onder ’n bra uitloer.

Maraai, die vrou wat op Braam se plaas woon, haal haar bril af en vee oor die kreukels onder haar oë terwyl sy my stip aankyk – jare se slytasie en verwyt op haar gesig. ’n Man, ingehaak by ’n vrou, staar na my sonder om oogkontak te maak. Hy druk sy sigaret onder sy skoen dood, trek die vrou met een haal onder sy vlerk in en draai weg om plaaseiers te koop.

Die skool moet seker vir die Septembervakansie gesluit het, want nie een van die groep hoërskoolkinders wat om die vrugteskommelstalletjie bondel, het skooldrag aan nie.

“Wie kom hier aangestap?” vra een van die skoolmeisies. Verbaas. Geamuseerd. Dis die eerste keer dat ek haar sien. Haar blonde hare tuimel vorentoe soos ’n ligte waterval. Sy kam met haar vingers haar kuif langs haar gesig weg, haal die haarknip uit haar mond en druk dit agter haar kop vas. Sy glimlag. Onderlangs. Ek kyk af, voel hoe sy my dophou. Ek probeer haar gedagtes peil, kyk of sy my spot, maar al wat ek sien, is ’n skoon wit bladsy. Langs haar swaai Brenda Botha ’n arm deur die lug en die vadoek in haar hand volg die gebaar. Die vol grys bob versag die stroewe lyne op haar voorkop en die wrang trek om haar mond. As verset die vrees vir verwerping is, die verwerping van verwerping, dan is daar ’n rebelsheid aan Brenda wat ’n mens nie by ’n vrou van byna sestig verwag nie. ’n Hardkoppige soort weiering om te aanvaar dat daar dinge is wat buite haar beheer lê. Juis dit gee aan haar ’n bepaalde lewensdrif – ’n bekoorlike maar bitter krag. Haar blou oë blits toe sy sê: “Weet jy dan nie, Ingrid-kind? Dis die Byeboer. Skarlakenvrou.”

Sy sê dit opsetlik hard, dat ek móét hoor. Al weer daardie naam. Ek wag vir die volgende opmerking, maar vandag swyg sy.

Ná nege jaar is ek steeds wildvreemd. Vreemd en wild vir hulle wat my aankyk, maand ná maand wanneer ek dorp toe kom om kerspitte te koop, skuurpapier, spykers en broeirame vir die byekaste, batterye vir my radio, gas vir die kampstoof, rakmelk en kaas wat stadig bederf, filterkoffie, pasta of lensies, meel vir potbrood, olywe, speserye, vars vrugte, bioafbreekbare seep, toiletpapier, tandepasta, tampons, pleisters en nog ’n boek. Wanneer ek verbyloop, kyk hulle na mekaar en noem my name. Ek probeer dit miskyk, die agterdogtige frons wanneer ek met grootgeld betaal. Skouers roer, ’n mond trek, ’n half terloopse fluistering. In die kantoor oorkant die straat word ’n blinder opgerol. Oë op my. Vir hulle is ek die alleendier, die eenkant een, die sondebok. Die woordstom vrou wat slaap tussen donker skaduwees.

Skaars veertig tree van die polisiekantoor af hardloop ’n span kinders oor die grasperk – spookasem in die hand, die hare gekoek – toe ’n laerskoolseun uit die bloute na hulle roep. “Daar’s sy!”

Die kinders volg hom. ’n Mollige dogtertjie beduie: “Is sy rêrig so kwaai?” Selfbewus. Nuuskierig.

“Nee, donkiekop,” snou die seun. “Sy’s nie kwaai nie, net mal.”

Mal. ’n Gerieflike woord. Een waaragter ’n mens maklik kan skuil. My sintuie is onverwags skerper. Asof van ver af hoor ek die fiets wat ’n uur gelede tussen die stalletjies geratel het. Ook die man wat op die sypaadjie geloop het met klippe wat onder sy skoensole knars – ek sién sy spoor in die gruis. Agter my skeur iemand twee koevertjies oop, roer die suiker in ’n beker koffie. Twee, ek kan dit ruik. Met toe oë vra ek vir ’n helder beeld, maar ek sien niks. Die seun se gelag eggo in die klank van ’n asblikdeksel wat iewers toeklap en nog verder in die geknars van ’n speelgoedvragmotor onder ’n karwiel. Dit moet gisteraand gebeur het – ’n roekelose pa wat oor ’n grasperk jaag? Die woede slyp in hom soos ’n wapen teen ’n klip toe hy die stok teen die grond kap en die kinders agter hom aan begin sing. ’n Heining van afwagtende monde en flikkerende oë. Toe, net so vinnig as wat hulle gekom het, is hulle weg. Binne oomblikke is ek weer alleen.

’n Vrou pluk ’n kind aan die arm. “Sies, wat kyk jy so vir die tannie? Staan nader dat ek jou gesig kan skoon kry.”

Haar stem is dun. Sy kyk onder geplukte wenkbroue na my terug en ek gee haar waarvoor sy vra. Ek spoeg soos ’n kobra: Wat wéét jy van skoon of vuil? Ek het ’n grysduiker sien lam, slagyster aan die poot, wurms in die warm wond, maar sy het aangehou veg soos een wat weet dat sy ’n bedreigde spesie is. Sý was skoon. Sý was skoonheid.

Die spoegstreep skiet vinnig en sekuur deur die lug, tref haar in die oë. Dierlik. En ek vlug voor die woorde wat soos wildehonde uit die gate van hulle monde spring.

Jare gelede, toe die bobbejaan die dag in die maag geskiet is, toe hy sketterend sy ingewande uitryg en die pyn probeer toestop met gras, het ek ook so gevlug. Agter my aan het die man geskree: “Ek stuur hom terug trop toe met ’n boodskap! Sal die laaste blerrie waatlemoen wees wat een van dié klein satanskinners by my steel.”

Die nuus moet soos ’n veldbrand versprei het, want toe ek later daardie dag by die Ruig instap, het Braam my reeds ingewag. Ek kon sien hy het die werk net so laat staan en dadelik gekom. Die ploeggrond en son nog aan sy hande. Sy oë vernou, soos iemand wat oor ’n geheim praat. “Jy moet versigtiger wees,” het hy gesê.

Stilte.

“Hulle gaan jou nog keelaf sny! Asseblief, ek is nie altyd naby om …”

Ek soek nie jou hulp nie!

“Wat wil jy hê? Dat ek eendag jou lyk moet gaan uitken?”

Daaroor moes jy gedink het voordat jy besluit het om my vriend te wees.

Hy het verstyf, toe met ’n amperse glimlag sy kop geskud en gesê: “Mapstieks.”

Vandag wou ek van die bobbejaanmannetjie vertel, van elke kruisboog en knaldemper, elke dier wat voor die geweer moes buig. Ek wou oorlog verklaar tussen taal en stilte. ’n Oorlog wat sê: As julle doodmaak, sal ek wraak neem deur te lewe. Maar toe ek my weer kom kry, doen ek wat ek my lewe lank doen: vlug. Deur die dorp en die veld agter die skool. Kruis en dwars oor die berg op die uitkyk na nuwe swerms, maar die onweer in die lug krap die bye om en ek klim weer ondertoe en stap rivierlangs. Van hier af sal ek die pad toe-oë kan vind; aan die gekraak van die bome of die geknars van sand onder my voete weet ek presies waar ek is. Twee kolganse swenk deur die riete en laat ’n rimpelspoor op die water – die mannetjie sis, die wyfie snater. ’n Jong bosbok skrik uit haar lêplek op – haar tong proe die lug. Die reënvoël skuif uit die takke. Doee-doee-doee-du-du-du.

Dringend.

Dan is die hiënawyfie in die oewerbos. Met ’n wipstap kom sy nader, kop omlaag. Haar lyf is met onreëlmatige kolle oortrek. Elke spier in my liggaam verstyf. ’n Oomblik lank sien ek asof deur ’n skreef: ’n trui en ’n bos blomme, alles in skakerings van rooi. Moenie vrees wys nie, moet net nie vrees wys nie. Gevlekte hiënas is aasvreters, nie alleenjagters nie. Hulle is menssku lafaards wat hulle teen miershope en klippe kamoefleer. Tog, hier staan sy, skaars vyftig meter voor my. Oop en bloot. Haar enorme kake is effens oop, kake waarmee sy die taaiste vleis kan skeur en die bene van koedoes kraak. Die bytplekke aan haar ore wys dat sy kort gelede geveg het. Proe sy nog die bloed?

Ek loop windaf, in lyn met die wyfie. Kwyl dit om haar bek? Sal sy skrik as sy my ruik? Ons meet mekaar. Duisende hiënas is al vergiftig en verstrik weens die bygeloof dat hulle draers van bose geeste is.

’n Klaagroep klink op in die verte. Die hoë whoee-hoepe eindig in ’n ysige gelag. Hier is rondlopers in die Ruig, dit weet ek al ’n geruime tyd, maar dis die eerste keer dat ek een teëkom.

Die spikkelwolf loop wye sirkels om my reuk te kry. Sy bewaar die afstand en gaan sit, haar breë kop effens gedraai. Haar stert piets op die sand terwyl sy onderlangs grom. Die slagtande is ontbloot – ’n werpsel word selfs met tande en oop oë gebore.

Die naaste klimbare boom is aan die oorkant van die rivier en my enigste wapen vir verdediging is die vuurhoutjies in my rugsak. As dit moet, kan ek die riete aan die brand steek in die hoop dat die vlamme haar verwilder.

Aan die westelike grens van die Ruig ontaard die bulke nou in ’n uitgerekte gelag. Die lang kuif rys van agter haar nek tot bo haar skouers en my mond raak kurkdroog. Dié keer kom sy reguit na my toe, die ore gespits en die stert oor die rug. Ek tree vorentoe. Grom instinktief. Ons beweeg ’n paar treë nader aan mekaar. Skielik spring sy weg, met ’n knor. Stert tussen die bene. Sy wys twyfel, waarom weet ek nie, want alles tel in haar guns: krag, vaart, reuksin, gehoor, sig. Moenie in haar oë kyk nie. Dié een is waarskynlik ’n uitgeworpene. ’n Gevaarlike enkeling.

Die hiëna snuif weer windaf. Moenie te vinnig loop nie, skreeu my brein – diere ruik vrees. Sy lig haar stomp snoet en volg my reukspoor. Ek is te ver weg om te sien of haar nekhare orent staan. Eers toe ek deur die rivier is en sy steeds op die oorkantste oewer huiwer, begin ek veiliger voel, maar die metaalsmaak bly in my mond, die beeld van ’n bebloede trui en ’n bos blomme pal voor my oë.

My keel brand toe die bloekoms eindelik agter my toemaak – ’n muur tussen my en die buitewêreld. Ek gooi die rugsak langs die huis neer en lig die gaasnet. Die tamaties is ferm in my hand en die wortels ryp oranje. Ek pluk ook pietersielie en bitterkoljander voordat ek die deur oopstoot en instap. Nou na die draadrak vir die knoffel en ui, wat ek opkap en in die kastrol oor die kampstoof in olyfolie braai saam met die tamatie, vars kruie en gisteraand se viskoekies. Die weer is dreigend en donker en met die venster oop steek ek die kerse op. Die vlamlig lok die insekte na binne. ’n Spinnekop skarrel verby. Rysmiere lê stil teen ’n blaker – net die beaarde vlerke tril. Ek raak aan ’n verdwaalde by se geel-en-swart angellyf. Die uilmot se oogvlekke is angswekkend swart.

Insekte word gebore op die wind. Hulle leef in die duister koeltes van die bos, ver anderkant menslike verbeelding. Hulle is vlugtelinge, swerwers wat my eensaamheid verdryf, maar sodra die weer opklaar, sal hulle hier uitsluip en nie weer aan my dink nie. Een vir een sal hulle minnaars van die vlam word.

Ek eet in stilte; buite het dit ook stil geword. Vanaand wil ek huil oor die merk aan my keel. Wat het van my stem geword? Ek is stilte. Stilte is ek.

Wildvreemd

Подняться наверх