Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 9

Zack van Aarde

Оглавление

Ingrid sit voor die rekenaar toe ek by die huis instap. Haar kop is vooroor en haar blonde hare hang soos ligte gordyne langs haar gesig af. Sy sug en druk ’n sliert agter ’n oor in. Dis ’n gebaar wat ek so goed ken. Een wat sewentien jaar gelede Jala s’n was. Hoekom dink ek tog nou aan dié goed? Jala, wat aandagtig sit en luister, haar bene oor mekaar gekruis, haar dik vlegsel oor haar skouer. Sewentien jaar. Kan dit so lank wees? Die dag toe ek my vrou verloor, kon ek nie huil nie. Ek het van die hospitaal af weggestap met ons babadogtertjie in my arms en die ding in my bors.

Ingrid se hare swiep deur die lug toe sy skielik omkyk. “Wanneer het Pa ingekom?”

“Nou net,” jok ek.

“Uitflippeneindelik!” Sy kom gee my ’n drukkie. Vandat sy ’n adolessent is, is drukkies iets wat so half in die verbygaan gebeur. “Sies, Pa stink na rook, en kyk net hoe vuil is die hemp! Ek het my amper vrek geworry toe ek sien hoe die berg brand. Hoekom bel Pa my nie?” raas sy.

Terwyl ek my hande onder die kombuiskraan afspoel, haal Ingrid hoenderpita uit die mikrogolfoond. Sy kom sit oorkant my aan tafel, haar voete op die stoel, en vra uit oor die brand. Ek vertel van die plaashuise wat ontruim moes word. Omdat min plase brandpaaie het, moes ons veldwagters selfs die vee uit die stalle en krale gaan red. Op ’n aand soos vanaand is dit goed dat Natuurbewaring ’n goeie verstandhouding met die plaaslike boere handhaaf. Vandat ek ’n jaar gelede hierheen verplaas is, hou ons gereeld rivier- en veldpatrollies. Ons reël ook staptoere in samewerking met die boere. Op dié manier verdien die boere ’n ekstra inkomste, terwyl die publiek die kans kry om koue water in ’n klipskeur te ontdek of te swem in van die Waterberg se vele riviere, spruite en fonteine. In die somer verdien die streek sy naam met donderstorms in die agtermiddae wat soms in vloede oorgaan. In ’n goeie reënjaar vloei water van die bergfonteine in die klowe rondom die dorp – ’n roete waaroor die toeriste gaande is. Nou het die brand die ekosisteem so ontwrig dat ek al dié uitstappies sal moet kanselleer. Maar dis die minste van my bekommernisse.

“Die mense glo die brand was kwaadwillig.”

“Ag nee, nie al weer nie,” sê sy met ’n klik van die tong. “Dié dorp gaan op hol oor tjol. Wie sal tog nou die plase wíl afbrand? Robert Mugabe?”

’n Ou man en sy kleinseun is weg, sê ek. Dis my kollega Jan Rats se pa en sy broerskind.

“Shame, hoe vat die arme ou dit?”

Dit is Ingrid se sagter stem. Ek hoor, maar ek hou my doof. Skielik is ek tot in my gebeente toe moeg en so ontwater dat ek ’n hele liter water drink. Met ’n “dankie vir die lekker kos” sit ek my leë bord in die skottelgoedwasser en wonder in die stilligheid hoe ’n mens nou eintlik verlies moet vat. Ek raai Rats vat dit soos ’n man. Hy sou seker die skok wou uithuil, maar ek dink hy het ook vergeet hoe.

Wildvreemd

Подняться наверх