Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 13

Brenda Botha

Оглавление

Dis lekker warm gebak hier op die voorstoep van waar ek die plaas se doenighede sit en dophou, die elfuurteetjie en beskuit wat Maraai netnou aangedra het, op my skoot. Net ’n halwe beskuitjie vandag, want, agge ja, elke keer as ek ’n bietjie gewig verloor het, spoor dit my weer op.

Skaars het die skuur se deur geklap, of Jan Pampoen kom verby met ’n graaf oor die skouer. Daar werskaf hy nou die bokmis onder die koejawelbome in. Genugtig, maar die boord drá vanjaar! Die ou wêreld lyk sommer groen en gaaf ná al die reën en my ranonkels staan ook kop omhoog.

Dis moeilik om te glo hier was September nog ’n gryse verslaentheid op die werf. Pampoen het weke afgevat om sy kind en pa te soek, maar niemand kon eers ’n verkoolde skoensool vind nie. Ai, die verdriet. Maar dis ook nie of ons verbaas was om te hoor wie die brandstoker was nie. Het daai behekste vroumens dan geen benul hoeveel hartseer haar speletjies bring nie? Reken, elke maand groet ons haar by die boeremark, maar sy praat nooit ’n dooie woord met ons nie. Maar sy’s so min stom as wat moskonfyt groen is!

Vandat Maraai se kleinkind weggeraak het in die brand, raak die arme skepsel net by die dag stiller, amper so stil soos die kere nadat Mampoer haar ’n loesing gegee het. Sulke tye sou Maraai laat by die kombuis opdaag, so pootseer soos ’n ou ooi. “Wou nog die driepoot skrop, maar val toe oor my eie pote. Gesig teen die grond. Is die oudgeit wat so maak.” Dit het sy dikwels gesê, altyd ’n verskoning, al weet ons albei sy’s g’n oud nie. Om haar só te sien wou my hart breek, maar nou ja, as mens eers een keer by ’n ander se moeilikhede inmeng, moet jy later vir die hele kontrei welsyn speel. Op sulke dae het ek Maraai vroeg afgegee met ’n fles koffie en beskuit as troos. Nooit het ek ’n sent van haar loon afgetrek as sy weggebly het terwyl die slaanplekke gesond raak nie. Jong, sy’s ook nie op haar bek geval nie. Was dit dalk haar hansgeit wat Mampoer se geduld so beproef het?

Doer kom die Chevrolet nou aangeskommel. Mens ruik die ou skedonk ook lank voor jy hom sien. Hik-hik kom hy in die skuur tot stilstand.

Hoe goed ken ek nie Braam se gestamp van sy skoene op die welkom-matjie by die agterdeur nie. Ek hoor hom drafstap deur die huis.

“Lees self,” sê hy en gee my ’n klapsoen op die wang.

Ek hou die poskaart ’n entjie weg.

Hi Oupa & Ouma.

Varsity is nog gesluit & ek is lus om vir ’n week/wat op die plaas te kom kuier. Ek hike Vrydag tot op die dorp. Kan julle my asb 20:00 voor die poskantoor oppik? Thanx!

Ebro.

PS: Ek het probeer bel, maar julle lyn was af. Hier is my selnr.

Ek laat sak die poskaart só stadig dat my varkhond, Tjop, beginne grom.

“Ebro.” Gmf. Klink altoos na iets tussen Epol en Hebro. Bid jou aan, die ge-Ebro is nie Botha-styl nie!

“Is dit nie wónderlike nuus nie, Brenda-lief? Hy kom Vrydag al,” jubel Braam.

“Onse heiden, Abraham! Sê ons aan om hom wie weet waffer tyd te gaan oplaai. Vrotsige grondpaaie, de lot. Die vermetelheid. Om ná al die jare … En wat vir ’n ma is Ida dat sy haar kind van die stad af laat ryloop?”

As Braam eers sy baard so staan en vryf, weet ek sy humeur raak haastig. Dis sy manier, van altyd af.

“Ons blóédkind kom kuier. Is jy dan nie bly nie?”

“Hoe weet jy hy’s Bothabloed?” troef ek. Ek sê al jare lank vir hom Ida het die kind by ’n ander man opgetel. Sy’s immers van dieselfde baksel as Skarlakenvrou. Die een pronk dalk op haaipolfaais en die ander een loop kaalpoot, maar tert bly tert. Elke slag hou Braam sy ore so toe soos ’n kleios se sweetgaatjies. Sê niks, stry niks. So goed ek praat met ’n dowe. Maar vandag beweeg sy slape op en af en die lug blaas hard en hoorbaar uit sy neus, nes ’n befoeterde afrikanerbul, toe hy die poskaart uit my hand gryp, dit in sy hempsak druk en hard vir my bulk: “Vrydagaand laai ek vir Ebro op en hy bly solank soos hy wil. Tot hiertoe en nie verder nie.”

Wildvreemd

Подняться наверх