Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 15

Braam Botha

Оглавление

Kyk, ek het my verniet bekommer dat ons twee soos wildvreemdelinge by mekaar gaan wees, want hier waar my kleinseun neffens my sit, is dit asof die jare tussen ons soos soggensdou verdamp. Elmboog teen elmboog sit ons in die Chev en praat soos ou bondgenote. “Hoe sê jy nou, Ebro? Skies tog, maar jy sal harder moet praat. Jou ouma kla oor die lawaai, maar ek sê dis die gaafste sessilinder in die Waterberg, want hy groet almal langs die pad so ta-ta, ta-ta, ta-ta!”

In ’n ander tyd, twaalf jaar gelede, het ons met dié einste Chevrolet na die bloekombos langs die rivier gery. Destyds was daar ’n lekker vleisbraaiplek en wanneer die weer guur geraak het, het ons gou in die ou pomphuisie gaan skuil – ’n geboutjie met ’n besonderse plek in ons harte, aangesien ons seun, goggadokter Lasarus, toe hy nog ’n skoolkind was, daar sy eie Navorsingsentrum vir Insekte begin het. Kompleet met ’n vergrootglas en botteltjies en aansteekborde.

Brenda-lief se blou oë het geblink waar sy agterop die Chev tussen Lasarus en Ebro gestaan het – wat was hy toe, agt? My oë het geblink toe die vlamme uit die rooiboshout spring. Hoe héérlik was dit nie om weer langs dieselfde vuur as my seun te sit nie! Koedoetjops het oor die kole gesis en Brenda was net besig om die blikbekers met koffie en kondensmelk aan te dra toe Ida vra: “Het Jarus vir julle vertel dat hy nou professor is? Hy is die jongste prof in die fakulteit.”

Ons het na mekaar gekyk, toe terug na Ida. “Jarus wie?” wou ons gelyk weet.

Haar oë het na Lasarus gedraai.

Dat ons enigste seun die boerdery nie wou oorneem nie, was ’n skok, maar om darem sy naam weg te smyt? Dit was asof hy sy hele herkoms verloën het.

Maar vanaand is nie ’n aand om derms uit te ryg nie. Nie noudat Ebro hier langs my sit nie.

“Oupa, dis great om terug te wees,” sê hy asof hy my gedagtes lees.

Ja-nee, die golwende lokke en bokbaard laat hom nogal na die Versoener van die Kinderbybel lyk.

Wildvreemd

Подняться наверх