Читать книгу Wildvreemd - Carina Stander - Страница 8

Braam Botha

Оглавление

Ek’s hier midde in ’n stryd om die slaansakke en nat takke op die Chevrolet gelaai te kry, vir wat kom help Jan Mampoer nie? Is dít nou die tyd om my in die steek te laat?

“Daardie verbrande ou likkewaan moet opskud!” roep ek oor my skouer na sy seun, Jan Pampoen, maar dié gaap my net aan en beduie na die berg. “Dáár. Pa het mampoer, dáár.”

“Dis nog nie eens melktyd nie, jou pa sal nie nóú al suip nie! Hy beter sy riete roer.”

Met die ander werkers agterop rammel die Chev soos donderweer teen die berg op. Van agter die stuurwiel af sien ek reeds dat die vlamme oor die grensdraad gespring het. Al die bure is hier, besig om teen die vuur te baklei. Zack van Aarde en sy span veldwagters werk saam met die wind om die vlamme suidwaarts te stuit, voor dit by die plaashuise en pakkamers kom, maar brandende blare en takkies waai deur die lug, bo-oor die voorbrand in die rigting van die dorp.

Tussen die vuurslanery deur hoor ek die Pedi’s praat van Mampoer wat vanmiddag die stookketel laat staan en bergop geloop het na waar Jan Groentjie smiddae speel. Mampoer wou hom seker huis toe stuur, soos hy graag doen, om twak te gaan haal, sê die een. Miskien het die kind toe met die vuurhoutjies gepeuter. Aikona, stry die ander, iemand anders het kwaad gestook. Maar wie? Seker weer die heuningboer wat bye uit die berg wou rook …

Op die daad moet ek my inhou om nie tussenin te praat nie. Spaar jou stem, sê iets vir my, jy gaan jou nog hees praat oor hierdie ding. Dis nog net die begin. Teen hierdie tyd weet ek tog al hoe los dié dorp se tonge kan raak. Kort nadat die heuningboer langs die rivier ingetrek het, het ek dit vir die eerste keer aan eie lyf gevoel. Ek het haar op die grondpad hier naby die plaas raakgeloop. Dit was die eerste dag van Junie, die begin van die winter. Die lug was effe bewolk, wat vreemd is hier by ons daardie tyd van die jaar, en in die vroemôreson het haar skaduwee soos ’n smal grashalm voor haar uitgestrek. Dit was onmoontlik om haar andersheid mis te kyk, die regop skouers, die swart hare tot in die middel van haar rug, nes ’n ryp tros druiwe. Sy het stadig gevorder met die krat heuningbottels in haar arms en ek het stilgehou om hulp aan te bied. Van daardie oomblik af het ek my in ’n ding begewe waarvan ek die einde nie kan voorspel nie.

Die lug dreun van die weermag se helikopters wat heen en weer tussen die vuur en die rivier vlieg. Elke keer as ’n sak water bo die vlamme oopbars, verrys daar ’n rookwolk soos ’n groot grys paddastoel. ’n Sagte reëntjie begin uitsak, maar dis klaar te laat. So ver soos die oog kan sien, lê die aarde verskroeid.

Maar wag, laat ek by die huis kom en ’n bietjie rus inkry. Daar wag immers môre die harde taak op my om die brandskade aan my plaas te probeer bepaal. Dinge lyk maar treurig. Soos dit nou gaan, kan ek skaars ’n meter voor my sien. Die as waai hier teen my Chev se voorruit vas en agter trek die bande sulke blink strepe oor die swart tapyt. Roet, net waar jy kyk. Mampoer en Groentjie? Dis mensonmoontlik dat hulle hierdie vuur kan oorleef. Groentjie is net te klein. En Mampoer te stadig. Die drank het hom oud gemaak voor sy tyd.

Die naweek het dit my opgeval hoe afgetakel Mampoer is. Ek het ’n draai by die werkershuise gemaak en toe kom hy oor die jaart geslinger met ’n bottel in die hand en rookgoed in die mond.

Ek het van die hekkie af begin roep: “Jan Mampoer, jy moenie agtelosig wees nie. Mens rook en drink nie tegelyk nie.” Mampoer was so gekoring dat hy my nie herken het nie. Hy het sy knypers skiet gegee dat die kranse antwoord gee en net daar in sy spore omgekap. Papdronk. Maraai het uit hul huisie gekom en haar skoon wit geskrik toe sy sien dat ek die dronk gedoente aanskou. Van wanneer af loop sy so windskeef? Sy’s dan sewe jaar jonger as ek! Is dit wat jare se vuurhout op die rug aan ’n mens doen? Is haar matras gedaan? ’n Aardige gevoel het my beetgepak. Ek moet plan maak, reël dat die skepsel op pensioen gaan of iets. Ongeskiktheidspensioen, want op vyftig is sy nog veels te jonk vir ouderdomspensioen.

Maraai het my daar by die hekkie kom groet. “Mirrag, Meneer,” het sy gemaak vrolik gesê. “Neem my nie kwalik nie, maar sê tog vir Mevrou ek sal nie môre met die werkies doenig kan wees nie. Die ou lyf is vol mankemente. Ek voel nie te vas op die voete nie, maar ek’s verder sonner makeer. Is net die oudgeit wat so maak.”

Stadig het ek kop geknik.

“Dankbaar, Meneer.”

Ek het verby haar gesig probeer kyk en sagter gepraat as wat ek gedog het ek kan.

“Daardie bloed in jou mond, Maraai, is dit ook die oudgeit wat so maak?”

Sy het verleë afgekyk. “La’k liebesters my bek hou, Meneer,” het sy binnensmonds gepraat. “Hy’s net partykeer so. Eintlik is ek sonner makeer …”

Ek het my hand op haar skouer gesit. Dit moet die eerste keer wees in die bykans dertig jaar dat sy by my werk dat ek aan haar geraak het. ’n Vrou wat die letsels van dronk waansin aan haar lyf dra. Wat sweerlik elke helleveeg onthou. Voel en voel, maar niks sê nie. Agter my oë het die huil gebrand oor die vrou wat voor my gestaan het. Die vrou sonder makeer.

Wildvreemd

Подняться наверх