Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 12

7

Оглавление

Hy droom van Lize Beekman. Hulle stap in ’n besige straat en hy is eindeloos besig om te probeer verduidelik waarom hy so ’n belaglike ding voor haar kwytgeraak het. Maar haar aandag is nie by hom nie. Sy verdwyn, smelt weg in die skare, en mense kyk vir hom met groot afkeer op hul gesigte.

Die selfoon se wekker ruk hom wakker en hy sit halforent, nie seker waar hy is nie.

Hy sien die dossier op die spieëltafel. Die gebeure van gister dring stadigaan tot hom deur. Hy vryf met sy palms oor sy gesig. Hy staan stadig op, trek aan en loop badkamer toe om sy blaas leeg te maak en sy gesig te was. Dan loer hy versigtig by Alexa se kamerdeur in.

Sy slaap nog.

Hy oorweeg sy opsies. Hy moet huis toe, gaan stort en skeer en tande borsel en ontbyt kry – hy’t gisteraand niks geëet nie. En dan vir Tommy Nxesi by Sloet se woonstel gaan kry. Maar hy wil Alexa nie net so los nie …

Hy neem ’n besluit, dra die lêers af na sy kar toe, kry die notaboek en pen in die paneelkissie. Die oggend is helder en skoon en windstil, die berg se rotswande gloei. Hy staan ’n oomblik in die straat daarna en kyk, dan draf hy terug, gaan sit weer in die tweede slaapkamer by die spieëlkas om vir haar ’n nota te skryf.

Alexa

Ek is verskriklik jammer oor gisteraand. Dit was alles my skuld. Bel my asseblief as jy wakker word. Ek moet dringend met jou praat.

Bennie.

Hy skeur die bladsy uit, loop so sag as wat hy kan by haar kamer in, en plaas dit op die bedkassie waar sy dit sal sien.

* * *

36-On-Rose is ’n blinknuwe vyfverdiepinggebou, ontwerp om die Bo-Kaapse argitektuur op ’n moderne manier te probeer weergee. Die onderste vlakke is net so veelkleurig geverf soos die klein arbeidershuisies verder aan in Roosstraat.

Nxesi wag by die voordeur. Hy is dieselfde lengte as Griessel, maar breër, die bene effe bak. Sy swartraambril en bruin tweedbaadjie gee hom ’n professorale voorkoms. Hy groet vriendelik. “Ek het die sleutels, maar security sal vir ons na die vloer toe moet vat.” Sy Afrikaans het ’n township-aksent. Hy hou die deur vir Griessel oop.

“Tommy, ek is jammer oor dié ding,” sê Griessel terwyl hy instap.

“Kaptein, dis niks nie. Ek het gedink julle sou lankal die saak gevat het.”

Die voorportaal is nuut en blink. Agter ’n toonbank is ’n man en vrou in sekuriteitsuniforms. Nxesi beduie na die TV-kamera agter hulle, teen die muur. “Die CCTV en die lifts se card system moes al einde Desember gewerk het, maar hulle was nog tot einde Januarie besig om klaar te maak met alles. Op 18 Januarie was daar niks security nie, behalwe dié mense by reception. Die probleem is ’n intruder kon daardie tyd ook by die parking garage ingekom het.”

Hy wys sy SAPD-eieningskaart vir die vroulike wag, praat met haar in Xhosa. Sy laat hulle eers in ’n boek teken, ’n maatreël wat Griessel nog nooit kon verstaan nie, want jy kan enigiets daarin skryf.

Dan lei sy hulle na die hysbak. “Nou werk die system só dat jy ’n kaart daar moet indruk as jy wil opgaan.” Nxesi wys na ’n gleuf net bokant die hyspak se knop-paneel. “Dan druk jy jou vloer. As jy ’n nommer druk wat nie op jou card ge-program is nie, dan loop hy nie. Met die afkom loop hy self.”

“Maar dit het nie op 18 Januarie gewerk nie.”

“Nee. Twee dae ná die moord, tóé werk dit.” Hy skud sy kop.

Die sekuriteitswag maak ’n geluid van protes. Nxesi skuif sy bril. “Hulle is baie touchy oor die moord, want die helfte van die flats is nog for sale.”

* * *

By die deur, terwyl hy oopsluit, sê Nxesi: “Alles staan net soos dit was, omdat die docket nog oop is. Maar die lawyers het die SC begin pla, hulle wil hê ons moet skoonmaak, hulle wil haar estate klaarmaak. Die ma-hulle erf alles. Hulle bly in Jeffreysbaai. Retired.”

Hy stoot die deur oop, wag dat Griessel voor moet stap.

Griessel bevestig dat daar ’n loergaatjie in die voordeur is, en ’n veiligheidsketting en grendel, onbeskadig. Dan gaan staan hy, wil eers net ’n gevoel vir die vertrek kry.

Dit is kleiner as die indruk wat die foto’s geskep het, maar steeds ruim en mooi en modern. Die oggendlig deur die groot vensters laat dit vrolik lyk, die uitsig suid sluit ’n stuk van Seinheuwel in. Links van hom is die enkele pilaar, die kombuis daaragter. Hy hoor die sagte suis van die yskas, ’n duur dubbeldeur. Tussen die pilaar en die vensters, in die middel van die ruimte, staan die bank en stoele. Die kunswerk hang regs van hom, teen die muur, die hoëtrourak daaronder. Die skildery lyk nou interessanter as op die foto’s. By die venster staan die wit teleskoop op ’n driepoot.

Hy kyk om, sien Nxesi hou hom met groot aandag dop. “Kan ek na die sleutel kyk, Tommy?”

Die Xhosa-speurder hou dit na hom uit. “Dié een is vir die voordeur.” Hy wys die silwer Yale-sleutel. “Dis vir haar kar, die ander is vir van die kaste daar bo.” Die bossie is aan ’n metaalringetjie.

“Was daar spaarsleutels iewers?”

“Net vir die kaste, en vir haar kar. Sy’t dit in die laai langs haar bed gehou.”

“In haar kantoor?”

Nxesi skud sy kop.

“En sekuriteit? Het hulle ’n sleutel?”

“Hayi. Net die caretaker het ’n loper, maar hy het nie ’n lift card nie. Security moet hom bring, but only if the owner has given permission.”

“Haar kar?”

“Dit staan nog hier onder in die parking garage. Mini Cooper S Convertible. Forensies is daardeur. Nothing.”

“Dankie.” Griessel gee die sleutels terug.

Hy kyk af na die bloed.

Op die blink, grys marmerteëls, drie tree van die ingang af, is die eerste fyn waaier van bruin, droë bloedspatsels, in swart omkring deur forensies. Omtrent ’n meter verder is die wye, versteende plas waar sy gelê het.

Griessel staan terug, tot in die voordeurkosyn, loop dan twee treë vorentoe. Nog ’n skuifelpas. Hier sou die moordenaar gestaan het. Hier is die enkele wond toegedien. Sy het teruggeval, sekerlik van die geweld daarvan. Daar inmekaargesak.

Griessel buk af, kyk na die voorste, delikate spatsels. Dit is perfek bewaar, geen voetspoor, geen smering nie.

Hy loop agter die pilaar verby, na die kombuisie toe. Die wasbak is leeg. Die werksoppervlak is skoon, net soos op die foto’s.

“Tommy, hier was niks in die wasbak nie?”

Nxesi kom staan by hom. “Niks. Sy’t by die werk geëet. Thai take-away ge-order, so by six forty die aand. Van ’n delivery service wat dit onder by Silberstein House se reception gelos het, five past seven. Toe bel hulle haar, toe gaan kry sy dit. Die bokse was in haar trash. That’s why the pathologist was so certain about the time of death. He says that last meal had barely left the stomach, there was very little in the small intestine. As sy net voor sewe geëet het, was die time of death baie naby aan tienuur.”

“Jy’s ’n goeie speurder, Tommy,” sê Griessel nadenkend.

“I try …”

“Toe ek … Hulle het dit met my ook al gedoen, Tommy. My saak vir iemand anders gegee. Ek weet hoe dit voel.”

“Kaptein, dis O.K.” Hy skuif weer met sy vingers aan sy bril.

“Dis makliker as jy die hele dossier eers kan lees. As al die voetwerk klaar gedoen is.”

“Maak nie saak nie. Kom ons vang net die een wat dié ding gedoen het.”

Griessel sien die erns op Nxesi se gesig. “Dankie, Tommy.” Hy beduie na die boonste verdieping. “Daar was ’n wynglas, langs haar rekenaar. Maar nie ’n bottel nie …”

Nxesi trek ’n deurtjie oop van die losstaande kombuis-werksbank, en wys met sy vinger. “Die wyn het hier gestaan, forensics het die bottel saamgevat. Red wine, oopgemaak, die bottel was so half.”

Sloet moes die wyn kom ingooi het, die bottel gebêre het. “Sy was netjies.”

“Jy moet die kaste sien. Dis soos ’n winkel.”

“In watter laai is haar messe?”

Nxesi wys na ’n stel laaie. “Die cutlery is bo, die utensils in die derde een,” sê hy.

Griessel trek die boonste laai oop. Silwer eetgerei, vurke, messe, lepels, teelepels. Niks wat naastenby die moordwapen se afmetings kon wees nie.

“Daar’s drie kitchen knives in die ander een,” sê Nxesi. “But nothing that comes close.”

Bennie maak die derde laai oop. Dit is nie baie vol nie. ’n Paar opskep- en slaailepels, ’n klein verskeidenheid kookinstrumente. En drie messe met swart hewwe, verskillende groottes, die langste een is ’n vleismes, maar die afmetings is steeds te klein om die moordwapen te kon gewees het.

“Even if there was a bigger one in that set, sou hy steeds te maer gewees het,” sê Nxesi. “Ek het dié flat deurgesoek, kaptein. As sy ’n dagger of ’n assegaai gehad het … No trace. Ek weet nie …”

Griessel stoot die laai toe, loop na die yskas, maak dit oop. Daar is nie veel in nie. Twee houers gegeurde jogurt van Woolworths, en een met fetakaas. Twee soorte geel kaas, elk in sy eie plastieksakkie verseël, ’n tweeliterbottel lemoensap, een derde leeg. ’n Bottel witwyn, onoopgemaak, ’n houer margarien, ’n Tupperware-bakkie met wat lyk na beetslaai daarin.

Hy trek die vriesgedeelte se deur oop. ’n Bak roomys, ’n paar sakkies bevrore groente, ’n enkele pak hoenderdye.

Hy stoot die deur weer toe.

* * *

Bo kyk hy eers na die tweede slaapkamer, die een met die verseëlde kartonne in. Die bokse is netjies op die enkelbed gepak, haaks met die hoeke. Die twee opgerolde Persiese tapyte is teen die leë wit boekrak gestoot, sodat jy maklik na die bed toe kan stap.

Griessel loop tot by die bed, inspekteer die bokse. Hulle is nog verseël met die breë kleefband wat vervoermaatskappye gebruik.

Nxesi volg hom met die uitloop, dan in die kort gang af na die hoofslaapkamer. Aan die punt van die gang, net voor die kamerdeur links, is ’n groot venster met ’n uitsig oor die stad.

Die slaapkamer is groot. Ingeboude kaste teen ’n lang muur af. Sloet se werkstafel oorkant, tussen die twee groot vensters, die roomkleurige gordyne toegetrek, net soos op die foto’s. Teenoor die deur staan die groot, minimalistiese dubbelbed, links daarvan die ingang na die badkamer. Op die vloer is ’n groot Oosterse tapyt, ook roomkleurig, met fyn bruin patrone.

“Die lamp was aan,” sê hy.

“Hy was.”

Die werkstafel is nou leeg, die rekenaar en lêers verwyder. Hy trek sy asem in om te vra oor die rekenaar, maar sy selfoon lui. Hy trek dit uit sy hempsak. ALEXA, sê die skerm.

“Hallo.”

“Bennie, ek kan dit nie doen nie.” Daar is absolute angs in haar stem.

Hy loop uit na die gang toe voor hy vra: “Hoe bedoel jy?”

“Ek kan nie die konsert doen nie, Bennie. Ek kán nie.”

7 Dae

Подняться наверх