Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 18

13

Оглавление

Mbali moet deur die omstanders beur om by Groenpunt-stasie se hek uit te loop. Hulle staan net buite die halfsirkel van geel misdaadtoneelband wat om die voordeur gespan is, klaers wat wil ingaan, nuuskieriges, almal hou vir Dik en Dun van forensies dop terwyl hulle deur die glasskerwe sif.

Sy gaan staan in die hek, trek ’n denkbeeldige lyn vir die skoot, en stap dan daarvolgens aan. Kort-kort talm sy, kyk terug, sien hoe die opening vernou soos die afstand rek.

Sy loop oor die vaal, oop ruimte langs die tennisbane, tot by die Westelike Boulevard. Om hier stil te hou, te mik, te skiet. Twee skote? Onwaarskynlik.

Sy wag vir ’n opening in die verkeer, draf oor die teer tot op die middelmannetjie, dan oor na die ander kant. Haar handsak swaaiend aan die skouerband, sodat sy dit met haar hand moet vashou.

Effens uitasem kyk sy eers terug na die hek, nou onmoontlik klein.

Dan kyk sy na die moontlikhede hierdie kant van die dubbelpad – die oop ruimte links, die rolbalklub daaragter. Daarna die heining van baksteen en traliewerk by die Burgersentrum na regs. Bo-op is ’n geëlektrifiseerde draad. Niemand kan dáár oorklim nie.

Sy staan lank, kyk en tob. En maak eindelik haar afleidings.

* * *

Griessel sit en wag tot Gabby Villette die stilte vul. “Jy moet die konteks verstaan,” sê sy. “Silbersteins is … Al die direkteure is mans, negentig persent van die assosiate ook. En al die P.A.’s is vroue. Hanneke was iewers in die middel …” Sy kyk op, die oogtande meteens uitgestal in ’n apologetiese grynslag. “Ek is só nie gewoond daaraan om oor my werk te praat met buitemense nie. Dit is die probleem met Silbersteins, dit word jou wêreld, jou hele lewe …”

Hy kan sien sy wíl daaroor praat.

Sy vou haar arms. “Dit is so ’n … intense plek, die ure, die tempo, die druk, dit is geld wat almal dryf, uitboekbare ure …” Die arms kom stadigaan oop. “So, in hierdie atmosfeer, dis moeilik om vir iemand te verduidelik. Ons … die P.A.’s, dis soos ’n subkultuur, ’n netwerk, ons móét alles weet vir die plek om te kan funksioneer. En almal se grille ken. Hanneke het haar so doelbewus gedistansieer van ons, ek dink dit was sodat almal moet weet sy’s ’n vrou, maar sy is nie een van ons nie, sy is een van húlle. Maak ek sin? Ek dink sy moes, om haar merk te maak. Nie almal het daarvan gehou nie. Partykeer het hulle lelik geraak. Nie uit jaloesie nie, meer ’n gevoel van ‘sy hoef dit nie so pertinent te doen nie’, asof sy hulle beledig het. So daar was altyd stories …”

Sy kyk op na Griessel vir aanmoediging.

“Watse stories?” verskaf hy dit.

Die langsame knik. “Die meeste was nie waar nie.”

Hy wys hy verstaan.

“Hulle het gesê sy sal enigiets doen vir bevordering.”

Sy vou weer haar arms en kyk na die venster.

“Sy wás ambisieus. Dit is waar die stories begin het. Maar dan … As sy saam met ’n direkteur gaan eet, dan práát hulle. Jy weet … En met die boob job verlede jaar, toe is dit weer ‘ja, nou mik sy hoër’ …”

“Het sy met iemand by die werk ’n verhouding gehad?”

Die “nee” kom te vinnig, en Villette besef dit. “Ek weet nie. Regtig nie.”

“Wat dink jy?”

“Definitief nie vandat ek vir haar werk nie.”

Hy weet sy lei hom. “En voor dit?”

“Miskien.”

Hy knik aanmoedigend.

“Dit was toe sy nog kandidaatprokureur was. Lank terug. 2002? Sy het in Korporatiewe en Kommersiële Litigasie gewerk. Die direkteur was Werner Gelderbloem. Hy was haar soort van mentor, tóé al verby vyftig. Aantreklike man. En hy’s getroud … In elk geval, daar was sprake dat hulle … Jy weet …”

“Sprake?”

“Hulle het glo nog in sy kantoor gesit en praat as sy P.A. huis toe gaan in die aand. En hy het haar saamgevat vir ’n saak in Pretoria, en toe sy P.A. een oggend vir hom in die hotel bel, toe hoor sy Hanneke se stem in die kamer … Of sy het gedink dit is Hanneke se stem.”

Griessel het gehoop op meer. Iets onlangs.

Villette sê: “Stories …”

Hy knik, probeer sy teleurstelling wegsteek. “Het jy haar vorige vriend geken … ?” Hy raadpleeg sy notas. “Egan Roch?”

“Ek het hom ontmoet. Twee keer. Hy was eendag by die kantoor, net nadat ek by Hanneke begin het. En toe by die Kers-geselligheid, voorverlede jaar.” As ’n navoegsel: “Hulle het goed bymekaar gepas.”

“Hoe bedoel jy?”

“Twee mooi mense. En die manier hoe hy met haar was … Ek dink hy het haar verstaan. Hy is … baie gemaklik met homself.”

“Weet jy hoekom hulle uitmekaar is?”

Sy skud net haar kop.

* * *

In sy kar bel hy vir Hannes Pruis, Silberstein-direkteur. Die selfoon gaan oor na stempos. Hy laat ’n boodskap, druk dan Egan Roch se nommer in. Die man antwoord, die sein is wisselvallig, die gesuis van ’n bewegende voertuig hoorbaar. Griessel verduidelik die situasie. Roch sê hy is anderkant Citrusdal, hy sal eers ná sewe by die huis wees, kan hulle môre ontmoet?

Bennie stem in, maak ’n afspraak vir tienuur, want Roch werk op ’n wynplaas buite Stellenbosch. Dan lui hy af en ry na die SAPD-stasie in Groenpunt, omdat dit naby is. Hy moet voor die klein supermark parkeer, want die hek is afgesper. Hy klim uit en gaan soek vir Mbali.

Dik en Dun van forensies is besig om op te pak.

“Hei, Bennie,” groet Arnold, die kort dikke.

“Nou kan ons relax,” sê Jimmy, lank en maer.

“Die Valke is hier,” sê Arnold.

“Haai,” sê Griessel.

“Haai?” se Arnold. “Nou’s dit ‘haai’?”

“Wat het van fokkof geword? Vloek julle nie meer by die Valke nie?”

“Geen sin vir tradisie nie. Dis die moeilikheid met hierdie elite-eenhede.”

Griessel sug. “Het julle vir Mbali gesien?”

“Die Vet Valk,” giggel Arnold.

“Falcus Gigantus,” gryns Jimmy.

“Bennie is die Singvalk,” sê Arnold. “Hoor jy’t ’n band …”

“Fokkof,” sê Griessel, teen sy sin.

“Dis beter,” sê Arnold.

“Jammer ’n ander band het al daai naam gevat. Fokofpolisiekar. Maar Valk Off kan werk …”

“Mbali,” sê Griessel, want dit help nie jy vererg jou vir hulle nie.

“Weggevlieg,” sê Jimmy. “Terug na die Claremont crime scene toe.”

“Het sy al vir jou gesê, Bennie?” vra Arnold.

“Wat?”

“Wat in Amsterdam gebeur het?”

“Ek sê jou, iemand wou haar in Walletjestraat optel, toe moer sy hom …” sê Jimmy.

“Het sy, Bennie?”

“Ek’s die Stilvalk,” sê Griessel en loop hek se kant toe.

* * *

Om sewe minute oor vier stuur die sluipskutter die e-pos, maar die druk en vertwyfeling ontneem hom van genoegdoening. Dit dwing hom op voor die rekenaar. Hy pluk die laai oop, haal die Chana se sleutels uit, loop vervaard na die kombuis toe en maak die toegangsdeur na die motorhuis oop. En dan steek hy vas, bewus van sy ylingse haas.

Hy kan dit nie bekostig nie.

Een fout. Dit is al wat nodig is. Hy sal moet kalmeer. Hy sal mooi moet dink oor wat hy nou wil doen. Want elke minuut met die Chana op die pad is ’n risiko.

Hy talm, reik na kalmte, na beredeneerdheid.

Hy het nie ’n keuse nie. Hy sal moet ry. Die toets gaan doen.

Hy trek die deur stadig agter hom toe, gaan klim in die voertuig. Kyk agterin. Alles op hul plek.

Skakel die enjin aan. Druk die afstandbeheer se knoppie om die motorhuis se deur oop te maak.

Hy ry, uit op die R27, Melkbosstrand toe, dan met die M19 oos, tot waar die ou Atlantis-pad links afdraai. Hy soek ’n plek, kry dit vyf kilometer verder – ’n grondpad na links, oor ’n treinspoor. Hy draai af, sien ’n moontlik teiken, min of meer 100 meter weg. ’n Bloekomboom, die stam dik, die bas wat in stroke afpeul.

Hy hou stil, skakel die enjin af. Hy voel die senu-prikkels in sy nek, die spanning in sy buik, die saamgebondelde kommer. Waarom kan hy nie daarvan ontslae raak nie?

Want hy het al twee keer misgeskiet. Dit is wat die druk opwek, en wat hom ontneem van die bevrediging. Al sy perfekte beplanning, maar dít kon hy nie voorsien nie.

Kalmeer. Los die probleem op.

Hy wag. Kyk. Luister. Eindelik klim hy agterin, maak die materiaalskerm los, kry die geweer, en skuif die sypaneel.

Hy lê aan op die boom.

Soveel makliker as die teiken nie lewe nie.

Hy skiet.

Kyk deur die teleskoop.

Perfek.

Soveel makliker as die teiken nie beweeg nie.

Dit is nie die geweer nie. Die probleem lê by hom.

7 Dae

Подняться наверх