Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 9

5

Оглавление

Op ’n drafstap na sy kar toe met die lêers in sy arms en die wete dat dit sý skuld is. Hy het haar in die skande gesteek, haar alleen gelos, haar niks laat weet nie. Sy was honderd-en-vyftien dae lank nugter en nou het hý haar weer na drank gedryf.

Hy maak die agterdeur van die BMW 130i oop, sit die dokumente op die sitplek, klap die deur in frustrasie toe, klim voorin en ry.

Hy moes geweet het Alexa het destyds gedrink omdat sy vrees vir die verhoog gehad het, en vanaand was ’n soort verhoog, haar eerste interaksie met musiekmense in jare, haar senuagtige terugkeer na die kollig. Hy moes gedink het, moes sy taal en sy reaksie beheer het. Hy moes vir die brigadier gesê het hy kan nie dadelik kom nie, hy moes Alexa eers huis toe geneem het. Maar nee, al waaraan hy kon dink, was sy eie skande. Hy is ’n swaap, ’n fokken dom poliesman.

Wat is verkeerd met hom?

Die waarskuwing van Dok Barkhuizen wat nou deur sy kop flits: “Versigtig, Bennie, jy’s nog nie ’n jaar droog nie. Twee alkoholiste … dis dubbel die risiko.”

En hy het geprotesteer en gesê hulle is net vriende, hy kan haar ondersteun, aanmoedig, hulle gaan saam-saam na die AA-byeenkomste toe. En Dok het sy kop geskud en gesê: “Versigtig.”

Hoe het hy haar vanaand ondersteun?

Hy moes na Dok geluister het. Want Dok het geweet die “net vriende”-verduideliking is ’n rookskerm. Dok het gesien hy hóú van Alexa. Al hoe meer.

En sy van hom, het hy gedink.

En nou? Nou’t hy alles opgefok.

Hoekom jaag hy altyd aan? Hoekom is sy lewe net nooit eenvoudig nie? Net fokken nooit. Hy’s vyf-en-veertig, die ouderdom waarop hy veronderstel is om innerlike kalmte en wysheid en berusting te kry, die ouderdom waarop jy jou lewensgemors al moes uitgesorteer het. Maar nie hy nie. Sy lewe is konstante chaos. ’n Onophoudelike stroom moeilikheid, ’n nimmereindigende stryd om dit te probeer hanteer. Maar hy kan nie wen nie, dis die een ding op die ander. Jy kan net nooit voor kom nie.

Hy het nou net, die afgelope maand of twee, so half aan die hele egskeiding-ding begin gewoond raak, probeer vrede maak met die feit dat hy en Anna verby is. Heeltemal, onherroeplik verby. Hy sukkel nog met die ding dat sy al hoe ernstiger met ’n prokureur deurmekaar is. ’n Fokken prokureur. Maar hy werk daaraan, fok weet, hy probeer.

Hy het sy rieme dunner gesny om die onderhoud te betaal, en sy bydrae vir Carla se studies, en hy kan al amper daarmee saamleef, al voel hy hy word geboor, hy betaal veel meer as Anna en hulle verdien omtrent dieselfde.

Hy’t die afgelope weke hard probeer om by die Valke in te pas, die nuwe verhoudings, die nuwe strukture, die nuwe range. Almal se range wat verander het, terug na die militêre struktuur van die ou dae. Almal behalwe syne, want ’n kaptein bly ’n kaptein. Maar dit het hy ook aanvaar.

Hy’t weer in ’n roetine gekom met sy kinders. Carla, wat nou drama op Stellenbosch swot. Drama, asof sy nie al genoeg daarvan in haar lewe gehad het met ’n alkoholis-polisieman-pa en die hele egskeiding-gemors nie. Dráma. Waar gaan die kind werk kry? En sy seun, Fritz, wat dalk of dalk nié matriek gaan deurkom nie, want hy speel nou kitaar vir Jack Parow se orkes. Jack Parow. Hip-hop of rap of wat jy dit ook al noem, vloek erger as ’n poliesman. Maar wat kan hy doen? Fritz het talent – Jack het hom self kom vra, kom speel vir my. Hy’t vrede gemaak daarmee dat die wêreld verander het, dat die kinders deesdae keuses het, dat hulle benadering tot loopbane anders is.

Vrede met ’n klomp dinge. Op die randjie van regkom.

En nou het hy op een aand gaan staan en ’n doos van homself maak voor drie mense vir wie hy ontsaglike respek het: Anton Goosen, Lize Beekman en Alexa Barnard. En laasgenoemde na die bottel laat gryp.

Laat hy dit nou maar aanvaar. Hy’s ’n fokop.

Die woord hang vir ’n oomblik in sy gedagtes, en hy besef: Dis die gevloek. Dis die probleem, dis die ding wat vanaand al die moeilikheid gemaak het. Nou, hier, moet dit einde kry. Hy het klaar gevloek. Klaar. Vir die res van sy lewe. Soos hy die drank gelos het, só sal hy die fokken gevloek ook los.

En môre, as sy nugter is, sal hy vir Alexa van die Sloet-saak verduidelik en haar om verskoning vra, en haar laat bel na die ander twee toe, sodat sy kan sê: Dit was uit bewondering en senuwees, miskien het dit ander mense ook al oorgekom, miskien is hy nie die eerste nie.

En dan dink hy hoe mooi Alexa gelyk het en aan sy vinnige hoop, by haar huis, vir ’n gelukkie vanaand, en hy snork minagtend vir homself, vir dié wêreld, in sy Valke-BMW op die N1. En hy dink, die lewe is net nooit fo– … Verdomp. Die lewe is net nooit verdomp eenvoudig nie.

Hy vind geen vreugde in sy nuwe woord nie.

* * *

Hy hou by die Kunstekaap stil. Sy selfoon lui. Dit is seker weer die sentrumbestuurder, oor Alexa. Hy antwoord haastig, wil sê hy is hier.

“Griessel.”

“Kaptein, dis Tommy Nxesi van Groenpunt.” Daar is ’n versigtigheid aan die stemtoon.

Dit neem hom ’n oomblik om te snap – dit is die adjudant-offisier wat die Sloet-saak oorspronklik ondersoek het.

“Jis, Tommy.”

“Kaptein, moet ek nog inkom?”

“Nee …” Hy besef die speurder het gesit en wag dat hy moet bel, op versoek van John Afrika. “Ekskuus, Tommy, ek moes jou laat weet het …” Griessel dink aan wat voorlê, met Alexa. “Jy hoef nie … Kan ons môre praat?”

“So jy’t my nie vanaand nodig nie?”

“Nee, baie dankie …”

“O.K.,” sê Tommy verlig.

“Dankie …” En dan onthou hy, hy wil na die moordtoneel gaan kyk. “Tommy, het jy nog die sleutels van Sloet se woonstel?”

“Nie hier by my nie.”

“Nee, ek bedoel môreoggend – kan ons môreoggend gaan kyk?” En dan haastig, want hy weet hoe Nxesi oor die hele ding moet voel, hy was self al in só ’n posisie: “Jy’s die ekspert op hierdie een. Ek wil hoor wat jý dink.”

“Sure, kaptein. Hoe laat?”

“Nege-uur?”

“Kry jou daar, thanks, kaptein.”

Griessel bêre die selfoon in sy sak.

Hy sal sy kop bymekaar moet hou.

* * *

Hy skrik toe hy haar in die bestuurder se kantoor sien. Haar grimering is gesmeer, haar hare oor haar gesig, deurmekaar, haar rok se hals het te ver afgeskuif, ’n sandaal lê eenkant, die ander een aan haar voet. Sy sit wydsbeen op ’n stoel, haar elmboë op haar knieë, sy wieg heen en weer.

“Alexa …”

Sy kyk stadig op. Hy kan sien sy is baie dronk. Sy sukkel om op hom te fokus. Dan vertrek haar gesig stadigaan. Sy probeer orentkom, maar sukkel. Sy begin huil.

Hy loop na haar toe, help haar op, wil haar rok optrek, maar sy omhels hom. Sy ruik na drank en parfuum.

“Ek is hier,” sê hy. “Ek is jammer.” Hy sit sy arms om haar, hou haar vas.

Haar kop is in sy nek en hy voel die warm, nat trane teen hom afloop. “Ek is …” sê sy, die sibilante wat swaar uitkom. “Ek is so ’n mislukking, Bennie.”

“Jy is nie,” sê hy.

Die bestuurder kom verby hulle, buk en tel haar sandaal op, en haar klein handsakkie wat oor die stoel se leuning gehang het. Hy hou dit na Griessel uit, die skoen aan net een vinger, asof dit besmet is, afkeer op sy gesig.

Bennie neem die skoen en die handsak. Alexa sak af teen hom.

“Kom,” sê hy sag. “Kom ons gaan huis toe.”

* * *

In die kar praat sy onsamehangend, haar kop teen die ruit. “Indringer, Bennie. Al wat ek is … hulle weet …” Sy sukkel om haar handsak oop te kry, haal haar sigarette uit, laat die aansteker val.

Hy wil haar nie só sien nie, want dit is sý toedoen. Hy soek na woorde om boete te doen, om haar te paai, maar al wat hy kry, is: “Ek is verskriklik jammer.”

Dit is asof sy hom nie hoor nie. Sy vat-vat na die aansteker op die vloer, gee die stryd gewonne, val terug in die sitplek en begin met ’n refrein: “Hulle het déúr my gesien.” Keer op keer sê sy dit, in die selfbejammerende toon van dronkverdriet.

Sy selfoon lui. Jissis, wat nóú weer? Hy antwoord.

“Bennie, dis John Afrika. Cloete sê daar gaan hierdie klein beriggie op bladsy 14 van die Weekend Argus wees, en op die internet, ons was te laat vir enigiets anders. Dis ’n gemors, Bennie, ek sê nou vir jou. In elk geval, ek wou net laat weet, jy sal moet uithaal en wys. Draai al die krane oop, Bennie.”

“Ja, generaal.”

“O.K., Bennie.” Afrika beëindig die oproep.

“Hulle het deur my gesien,” sê Alexa.

Hy hou voor haar huis stil, kry eers haar sleutel in die klein handsakkie. Hy klim uit.

“Moet my nie los nie,” sê sy smekend, in die stem van ’n kind.

Hy klim terug. “Ek gaan jou nie los nie. Ek wil net die deur gaan oopsluit.”

Sy kyk na hom sonder begrip. “Ek’s ’n alkoholis, jy weet.”

Hy knik, klim weer uit, loop haastig na die voordeur toe, sluit dit oop. Draf terug na die kar, maak die passasiersdeur oop. “Kom ons kry jou in die huis.”

Sy reageer nie, sit net daar, nou weer wiegend.

“Asseblief, Alexa.”

Sy lig stadig haar linkerarm. Hy buk, trek haar arm oor sy rug, beur haar uit en op. Sy is onvas. Hy skuifel met haar, deur die hekkie, op teen die stoep. Binne sukkel hy eers om die ligskakelaars te kry, dan help hy haar stadig op met die trappies. Haar ander sandaal kom los, rol twee trappies af. Hulle skuifel deur die gang, tot in haar kamer. Hy laat haar op die bed sit. Sy val skuins, haar kop op die deken. Hy skakel ’n bedliggie aan, staan vir ’n oomblik besluiteloos.

Hy moet haar handsak gaan haal, in die kar. Die voertuig sluit.

Haar lippe beweeg, sy sê iets.

“Alexa …”

Hy bring sy kop nader, sodat hy kan hoor wat sy sê. Maar sy praat nie. Sy sing. Die liedjie wat haar destyds beroemd gemaak het. “Soetwater”. Sag, byna onhoorbaar, maar perfek, nootvas, in haar sonderlinge, ryk stem.

’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.

Skink soetwater.

’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.

Drink soetwater.

“Ek gaan net gou die kar sluit,” sê hy.

Geen reaksie nie.

Hy loop haastig. Op pad teen die trappe af onthou hy sy het selfmoord probeer pleeg, die laaste keer toe sy dronk was. Met haar man se dood.

Hy sal vanaand hier moet bly.

Hy kry die handsak, haar sigarette en aansteker, dan die stapel dossiere, sluit die kar, en draf terug.

* * *

Met haar onhandige hulp kry hy die twee groot oorbelle los en sit dit op die bedkassie neer. “Probeer ’n bietjie slaap,” sê hy.

Sy kyk met nuwe fokus en beheer na hom. Haar lippe gaan effens oop. Sy sit haar hand agter sy kop en trek hom nader en soen hom, haar mond oop en nat, hy proe die drank op haar. Sy trek hom af, bed toe.

Hy sit sy hande versigtig op haar skouers, druk haar sag weg.

Sy huil. “Jy wil my óók nie hê nie.”

“Ek wil,” sê hy. “Maar nie só nie.”

Eindelik lê sy terug teen die kussings. Hy tel haar bene op, plaas hulle op die bed. Sy draai haar rug op hom. Hy loop om die bed, kry die deken se pant en vou dit oor haar.

Dan sit hy die bedliggie af en stap deur toe.

Hy staan eers daar, vir tien minute, en luister hoe haar asemhaling verlangsaam. Tot sy slaap.

Hy kyk na sy horlosie. Dis tien oor twaalf. Sondagmôre.

7 Dae

Подняться наверх