Читать книгу 7 Dae - Деон Мейер - Страница 14

9

Оглавление

Griessel vra hom waar hy die foto’s gekry het van Sloet, dié wat in die wit koevert is.

Nxesi huiwer ’n oomblik voor hy na die bedkassie toe loop, aan die regterkant van die bed. Daar is twee laaie, ’n deurtjie onder. Hy trek die tweede laai oop. “Kom kyk,” sê hy met kwalik verskuilde afkeer. En dan staan hy terug, asof die inhoud van die laai toksies is.

Griessel gaan kyk. Bo-op lê die vibrator, lank en dik, ’n makabere, getroue nabootsing van ’n penis. En daarnaas die boksie waarin dit gekom het. Big Boy Vibrator, in groot letters.

“Daar lê haar boyfriend,” sê Nxesi. “Die album is onder.”

Griessel sê niks, trek die fotoalbum uit en slaan dit oop.

Voorin is die naam van die fotograaf op ’n klein silwer plakker. Anni de Waal. En ’n adres in De Waterkant Village.

Nog foto’s van Hanneke Sloet, in dieselfde trant as dié wat hy gesien het, in ’n verskeidenheid poserings, een A4-afdruk per bladsy. Haar borskliewing word dikwels ten toon gestel, maar daar is geen ander naakfoto’s nie. En ag bladsye is leeg.

“Jy het net drie foto’s gevat?”

“Ewe. Twee vir die docket. En die kaal een, want ek wil nie hê haar ma moet dit kry nie.” Met groot erns.

Griessel probeer die album onder die vibrator en sy verpakking terugstoot. Hy kry dit nie reg nie, tel die boksie op, bêre die album. Hy lees op die kartonhouer: Big Boy is a hugely satisfying multispeed vibrating realistic veined cock. It’s a superhero love shaft for a meaty satisfaction designed to go deep and totally satisfy you with a greater girth for greater gratification. Real men just can’t measure up to this wild toy. Free Eveready Gold batteries included!

Hy kyk op, sien hoe die adjudant-offisier wag vir sy reaksie.

“Dis ’n snaakse wêreld, Tommy.”

“Hayi,” sê hy kopskuddend voordat hy sy bril regskuif.

* * *

By sy kar vra Nxesi dat hy moet teken vir ontvangs van die woonstelsleutels. Nadat Griessel dit gedoen het, sien hy die verligting, vlietend, asof die adjudant-offisier ’n gewig van sy skouers afgooi.

Net voor hy ry, vra hy: “Tommy, ek weet dit gaan snaaks klink, maar was daar enige sprake met jou ondersoek … enigiemand wat van ’n ‘kommunis’ gepraat het?”

“ ’n Kommunis?”

Sy verstomming is Griessel se antwoord. “Dis niks nie, Tommy, net iets wat die kolonel gisteraand gesê het.”

Nxesi skud sy kop. “I just found a lot of capitalists …”

Bennie bel in die ry vir Alexa en sê hy is op pad. Sy klink afwesig en ver, asof dit nie saak maak nie, en sy moed sink.

Die probleem is hy verstaan haar nie, al probeer hy, al verreken hy die skade van haar verlede. Daardie ontsaglike talent.

Drie maande gelede het sy vir die eerste keer kom sing saam met Roes, ’n amateur rock-en-blues-orkes vir wie Bennie baskitaar speel. Die naam is gekies want hulle is vier middeljarige, voorstedelike middelklasouens wat vyf maande gevat het om hul gesamentlike, aansienlike roes af te skud en stadigaan ’n repertoire van ou, klassieke liedjies te begin opbou, in die hoop om by troues en partytjies te speel. Hy het haar ’n paar keer versigtig genooi, sy het uit die bloute en op haar eie opgedaag by die ou gemeenskapsaaltjie in Woodstock waar hulle oefen. Sy het uitdrukkingloos gesit en luister terwyl hulle hul beste gegee het, erg bewus van haar musiekstatus. En toe vra sy ná die eerste stel: “Ken julle ‘See See Rider’ van Ma Rainey?” En Vince Fortuin, hulle leierkitaar met die anker-tatoeëermerk op sy seningrige skouer en die klein ogies wat heeltemal toemaak van plesier as hulle ordentlik aan die gang kom, sê: “Daai’s ’n lekka een, ma’ maybe so bietjie meer upbeat as Ma?” Alexa het met ’n effense glimlag en ’n knik van die kop saamgestem. Vince en die drommer Jaap, met sy lang grys hare en die sigaret permanent tussen sy lippe, het weggeval, en Griessel en die swaar-besnorde ritmekitaar Jakes Jacobs het geluister en bygekom, lekker sterk en stampend, en Alexa het die mikrofoon gevat en haar rug op hulle gedraai.

En toe sing sy.

Die ding is, hy’t gehoop, vaagweg en teen sy beterwete in, dat sy dit dalk sou oorweeg om saam met hulle op te tree. Nie permanent nie, dalk nou en dan. Spesiale geleenthede. Maar daardie aand, toe sy die eerste strofes sing, toe weet hy hulle is nie in haar klas nie.

Dit was die eerste keer in jare dat sy aan ’n mikrofoon gevat het, maar alles was net daar, onmiddellik en oorweldigend: die aanvoeling, die intonasie, die verstaan van die musiek, van hulle, van Vince se tempo en inslag. En die ryk, vol stem, die charisma, die betowering.

Sy het hulle standaard, hulle klank, hul vermoëns meteens gelig, sy het hulle skielik goed laat klink.

Toe sy klaar is, toe klap hulle vir haar hande, en sy sê: “Nee, nee, moenie.” En toe vra sy, selfbewus vir die kwalik onderdrukte honger: “Tampa Red se ‘She’s Love Crazy’?”

Vince het geknik, beïndruk en geesdriftig, en gespeel.

En Alexa het gesing.

Vir amper ’n uur lank, die een liedjie ná die ander. Griessel het die lig in haar oë gesien, en die metamorfose. Die tuiskoms, en die verlange in haar vir wat hy vermoed het ’n gehoor moet wees, of regte applous, dié soort wat dreun soos die see, want dit is wat haar talent gevoed het, dit is wat haar in daardie oomblikke toegekom het.

Dieselfde vrou wat gisteraand vir hom gesê het: “Hulle het deur my gesien.”

Waar kom sy daaraan? Het sy geen idee hoe goed sy is nie?

Hoe hanteer hy dit, as hy dit nie kan verstaan nie? Wat sê hy vir haar?

En sy ander bekommernis: Hy kan nie die hele dag by haar bly nie. Hy sal haar Alkoholiste Anoniem-borg moet bel, mev. Ellis, die skoolhoof. Want hy moet wikkel, hy moet konsentreer, sy kop moet nou vol wees van die dinge wat hy in Sloet se woonstel gesien het. Hy het vir Tommy gevra, onder by die motors, net voor hy vir die sleutels geteken het: “Wie’t jy vir dié ding verdink?” En Nxesi het gesê: “Die caretaker. Faroek Klein. He had opportunity, and a master key. He carries tools, so maybe het hy ’n groot steekding in sy box. Sy prints was in die flat. Hy’t geweet hoe maklik dit is om tot by haar deur te kom. Sy sou vir hom oopgemaak het. Hy fancy homself as a handsome guy, ek het gedink miskien het hy sy luck gaan try by die vrou met die groot …” Nxesi het met sy hande beduie, te skaam om die borste op hul naam te noem, en haastig bygevoeg: “Hy’t ’n rekord, kaptein, assault with intent. Die victim was ’n vrou. Hy’t ’n suspended sentence gekry, nege jaar terug. So ek het hom baie ge-like vir dié ding. Maar hy het ’n alibi – sy nuwe vrou en haar twee teenagers sê hy was die hele aand by die huis. And I believe them, hulle lyk decent.”

“Niemand anders nie?”

“Ek het lank gekyk na die boyfriend. Roch. But it did not want to fit, hy was oorsee, in any case. Daar’s niemand nie, kaptein, ek het na almal gekyk. Dis hoekom ek sê, dis iets wat ons nie gevat kry nie. A chance encounter, a spur of the moment argument.”

Maar hy stem net gedeeltelik saam. Daar’s ’n paar dinge wat hom pla. Die totale gebrek aan verdedigende wonde. Waar die bloed lê. En die derde laai in die kombuis.

As sy reg by die voordeur gesteek was, as haar hande gesny of gekneus was, kon hy nog die toevallige besoeker en die rusie-teorie aanvaar het. Maar sy’s ’n volwasse, slim prokureur. As iemand tienuur in die aand aan haar deur klop, kyk sy eers deur die loergaatjie. Maak sy net oop as sy die besoeker ken. Druk sy net die grendel terug en haal die veiligheidsketting af as sy hom vertróú.

Sy is van voor gesteek. Sy was van aangesig tot aangesig met die moordenaar. Drie meter die woonstel in. Sy het nie gekeer nie.

En die derde kombuislaai se inhoud dui op iemand wat nie erg is oor kosmaak nie. Dit is, vermoed hy, die somtotaal van haar kombuisimplemente. Selfs al was daar ’n vierde, veel groter, breër, langer mes, hy kan nie sien hoe ’n moordenaar inloop, die laai gaan ooptrek en krap tot hy die regte steekding kry terwyl Hanneke Sloet geduldig staan en wag naby die voordeur nie.

Die moordenaar het die wapen saamgebring.

Met opset. Doelbewus. Doelgerig.

En dit alles beteken Nxesi was reg om die handige, veroordeelde opsigter, Faroek Klein, te verdink. Hy sal weer na sy alibi moet gaan kyk.

* * *

Alexa kom maak vir hom die voordeur oop. Sy is in haar japon, nog onversorg. Maar sy is nugter.

Verligting spoel deur hom, en die skuld wat al sedert gisteraand in hom lê. “Ek is verskriklik jammer, Alexa, ek het jou in die skande gesteek en toe moet ek werk toe, ek …” Maar teen daardie tyd het sy al weggedraai van hom af, met ’n eienaardige uitdrukking op haar gesig wat hy nie kan lees nie.

Sy stap kombuis toe.

“Alexa …” sê hy. Sy skud haar kop, asof sy nie wil hoor nie.

Hy loop agterna.

Haar beker staan op die tafel, die stoel weggestoot. Dis waar sy gesit het toe hy aankom.

Sy skink woordeloos vir hom koffie en gaan sit by die tafel. Sy skuif die melk, suiker en teelepelhouer nader, plaas haar hande om haar eie koffiebeker, haar gesig versluier agter die blonde hare.

Hy gaan sit, nou bekommerd. Sy het só gelyk die eerste keer toe hy haar gesien het, in hierdie huis se sitkamer. Die oggend ná haar man se dood.

“Dit was nie jou skuld nie,” sê sy.

Hy wil met haar verskil, maar sy lig haar hand en maak hom stil.

“Ek maak só,” sê sy. “Met mense.”

Hy voeg suiker en melk by sy koffie.

“En ek weet nie hoe om op te hou nie, Bennie.” Sy kyk vir die eerste keer na hom, smekend en met soveel wanhoop dat hy vir haar iets wil gee, enigiets, al weet hy dit gaan nie reg uitkom nie.

“Jy is fantasties, Alexa,” sê hy, en die woord klink vir hom aangeplak en ontoereikend. “Jy is … jy het alles. Jy is die beste sangeres in die land en elke keer as jy my bel, dan wonder ek hoekom, want ek is ’n poliésman.”

Haar mond vertrek in emosie.

“Dis waar,” sê hy.

“Het jy al gedink dat dit juis die probleem is?”

“Hoe bedoel jy?”

“Here, Bennie, hierdie bedryf … Jy weet nie hoe dit is nie. Ek is nie sterk genoeg nie …”

“Jy is,” sê hy.

“Jy verstaan nie. Dit verlei. Die … áándag. Die fokus daarvan, die intense, nimmereindigende, onnatuurlike aandag. Dis asof … Om te kan sing, dit is so ’n doodgewone ding, dit is niks beter of niks anders as enige ander talent nie. Soos … die ou wat hierdie huis nou verf, wat die kleure en teksture voorgestel het, hy is so kreatief, so bedrewe, sy talent is so … duidelik. Maar mense koek nie om hom nie, vertel hom nie van die oggend tot die aand hoe wonderlik, hoe magies, hy is en hoe hy hulle lewe verander het nie en … Jy begin dit glo, Bennie, al wil jy nie. Dit hou nie op nie, elke dag, elke optrede, elke keer as jy jou neus by die deur uitsteek. Ek het al vergeet hoe dit is. Tot gisteraand. Ons is sulke egoïstiese wesens. Ons raak so maklik verlei. Verslaaf daaraan. Heeltemal. Dit was … dit is my dwelm. En ek het destyds mense om my begin versamel wat dit vir my moet gee, wat dit vir my moet sê, vir die oomblikke van twyfel. Want soms kom die werklikheid en die waarheid, wanneer jy besef jy en jou talent is doodgewoon, hierdie aanhang, hierdie asemlose bewondering en waardering en applous is vir die musiek, vir die emosie wat dit by mense wakker maak. Nie vir jou nie. En dan word jy bang. Dat mense dit eendag gaan besef.”

Sy sug, asof dit groot energie gevat het om dit alles te sê, draai die beker tussen haar vingers. “So ek versamel mense, Bennie. Soos Dave Burmeister, my eerste orkesleier. En vir Adam. En nou doen ek dieselfde met jou. Mense wat oor die waarheidsoomblikke kan pleister, vir wie jy kan sê jy is ’n mislukking, en dan sê hulle, nee, Alexa, jy is die beste sangeres in die wêreld. Hulle gee vir jou die dwelm wanneer die skares weg is. Dit is ’n bose kringloop, ’n verleidelike proses, nie rasioneel of normaal of psigies gebalanseerd nie. Want die wêreld waarin jy leef is abnormaal. Skyn. Spieëls en rook en kulkuns. En as jy dit besef, as die waarheid daarvan skielik eendag tot jou deurdring, dan kom die vrees. Om uitgevang te word. En dan begin jy drink. Want as jy dronk is, glo jy alles makliker …”

Dan lui Griessel se selfoon en hy wil dit los, want hy wil nie nou onderbreek word nie.

7 Dae

Подняться наверх